’n Groep Christene wat verskeie kerkgroepe verteenwoordig (regs) het verlede Vrydagoggend te voet met wit vlae en te perd aan ’n optog rondom Oudtshoorn deelgeneem en daarna ’n memorandum aan die burgemeester, Colan Sylvester, op die trappe van die munisipale gebou in Voortrekkerweg oorhandig. Bo lees Ranger Grebe, ’n evangelis voor uit die memorandum. Foto bo: Liesel le Roux / Foto onder: Tieneke Maritz

Deur Angelique Erasmus
SOWAT 20 perderuiters, ’n donkiekar met twee donkies en talle stappers met wit vlae het Vrydagoggend om Oudtshoorn geloop as deel van die #iSurrender-optog wat deur Ranger Grebe, ’n evangelis van Oudtshoorn gereël is.
Na die mars is ’n memorandum aan die burgemeester, Colan Sylvester, oorhandig waarin onder meer toestemming gevra word om ’n kruis op Spekkop op te rig wat groter en meer sigbaar sal wees as die een wat tans daar staan.
Die memorandum vra ook vir die plasing van wit vlae op plekke asook die #iSurrender-logo by die Burgersentrum.
Grebe het gesê dat nie een van die versoeke enige finansiële uitgawes vir die munisipaliteit sal inhou nie.
Sylvester het in reaksie ontvangs van die memorandum erken, maar gesê versoeke wat daarin gerig word, sal na die raad geneem moet word vir besluitneming aangesien dit nie die soort besluite is wat deur hy as burgemeester alleen geneem kan word nie.
• Ingevolge die memorandum sal daar weekliks deur spirituele leiers vir die dorp, die munisipaliteit en raad, skole en onderwysers, alle besighede, asook vir alle landbouers en landbouwerkers gebid word.
Die 13 km-optog die oggend het die perderuiters, die groep stappers en die donkiekar sowat vyf ure geneem om te voltooi.
Die aksie is gesteun deur ’n verskeidenheid kerkgroepe uit die Groter Oudtshoorn gebied.