

Lesers staan die kans om dubbelkaartjies te wen na een van die opwindende KKNK-produksies: Ouma en die ou koeie en Liewe Heksie word ‘gescam’. In Ouma en die ou koeie neem Margit Meyer-Rödenbeck jou op ’n skreeusnaakse kabaret-avontuur, terwyl Liewe Heksie ‘gescam’ word, met lag en leer vir die jongspan.
Wil jy kans staan om dubbelkaartjies te wen na een van die produksies? Dan moet jy net die volgende doen:
Stuur ’n boodskap na Die Hoorn se WhatsApp by 083 388 3684 en begin die boodskap met die produksie se naam (Ouma en die ou koeie of Liewe Heksie word ‘gescam’) gevolg deur jou naam en van.
En moenie Rondomtalie/Marry-go-round misloop nie. Hierdie komediedrama laat jou vir 70 minute voyeurs wees by ’n paartjie wat hul huwelik probeer red, met Deon Lotz, Margit Meyer-Rödenbeck en Gary Naidoo. Kaartjies vir al drie produksies is beskikbaar by Webtickets.
Lag en leer met Liewe Heksie
Liewe Heksie het ’n prys in ’n talentkompetisie gewen, en Karel Kat wil vir haar leer hoe om mooi na haar geld te kyk. Groot woorde soos finansies, rente en begrotings laat Levinia se kop draai, en selfs ’n spaarvarkie help nie altyd nie. Die nare Geelheks loer in die omtrek en probeer haar kloutjies op die geld kry.
Karel besluit ’n bankrekening met ’n bankkaart is veiliger, maar Liewe Heksie kan nie altyd goed onthou nie, en syfers en telwerk is glad nie haar sterkpunt nie.
Dit laat haar maklik uitgelewer aan ‘scammers’, en die avontuur neem dan eers regtig vorm aan. In hierdie produksie tree Eldon van der Merwe en Mia van der Merwe op, met teks en regie deur Margit Meyer-Rödenbeck, kostuums deur Karon Bester, dekor en stelontwerp deur Gerrit Snyman, verhoogbestuur deur Erynn Troup, en vervaardig deur Start the Conversation.
Liewe Heksie word ‘gescam’ word opgevoer by Hoërskool Oudtshoorn se skoolsaal (kykNET) die volgende datums:
• 30 Maart om 09:30
• 31 Maart om 12:30
• 1 April om 16:30
Ouma is terug, en sy onthou alles!
Met Ouma en die ou koeie bring Margit Meyer-Rödenbeck weer haar geliefde Ouma-karakter na die verhoog in ’n skerp komedie-kabaret wat lag en nostalgie hand-aan-hand laat stap.
’n Halwe waarheid in die 1950’s word vyftig jaar later ’n voldonge feit. Ouma onthou alles, van haar eie geheime tot die van die “vromes”, wat hul ou koeie veel eerder diep in die sloot sou wou los. Met haar skerp tong en humor laat sy die verlede weer op die verhoog tot lewe kom.
Ouma en die ou koeie is ’n 75 minute lange komedie-kabaret (geen onder 14) wat jou die een oomblik laat skaterlag en die volgende oomblik laat snak na asem, want jy mag jouself dalk net herken.
Coenraad Rall behartig die klavier en verwerking, terwyl Jurgen Human verantwoordelik is vir teks, musiek en regie.
Ouma en die ou koeie word opgevoer by Hoërskool Oudtshoorn se skoolsaal (kykNET) die volgende datums:
• 28 Maart om 18:30
• 29 Maart om 13:00
• 3 April om 13:00
• 4 April om 13:00
Wanneer ’n kombuistafel ’n huwelik laat kantel
Rondomtalie/Marry-go-round, geskryf en geregisseer deur Rafiek Mammon, bring ’n skaterlag-komediedrama na vanjaar se KKNK.
Vir 70 minute word die gehoor voyeurs wat inloer by die derde van ses terapiesessies van ’n paartjie wat hul huwelik van 12 jaar probeer red. Olivia het haar man, Alan, op heterdaad op die kombuistafel met ’n ander vrou betrap – en sy laat hom dit in geen onseker terme vergeet nie. Met haar “kleurvolle” taalgebruik en vasbyt-houding is sy soos ’n plaat wat bly haak.
Gooi daarby ’n Indiese verhoudingsterapeut, Mahesh Maharaj (klaarblyklik die beste in die bedryf met sy “alternatiewe” metodes), en dinge begin behoorlik rondomtalie draai.
Die rolle van Olivia en Alan word meesterlik vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck en Deon Lotz, terwyl Gary Naidoo die rol van Mahesh Maharaj vertolk.
Rondomtalie/Marry-go-round word opgevoer by Laerskool Van Reede se skoolsaal die volgende datums:
• 28 Maart om 10:00
• 29 Maart om 18:30
• 30 Maart om 14:30
Die produksie is 70 minute lank, word in Afrikaans en Engels aangebied en is nie geskik vir gehore onder 16 jaar nie.