In selfkwarantyn op Oudtshoorn

Linda Marques en haar twee dogters, Jordan (links) en Michaela Wilson (regs). Foto verskaf

HULLE sou mekaar vroeg in April in Praag ontmoet het vir ’n vroeë viering van haar 50ste verjaar­dag later in April, maar toe verander COVID-19 die wêreld.

Nou is Linda Marques en haar twee dogters wat tot onlangs in die buiteland gewerk het, Michaela Wilson (27) en Jordan Wilson (25), saam in self­kwarantyn op Oudtshoorn.

Hulle sou uit Suid-Afrika, Spanje en Engeland vir dié verjaarsdagviering na Praag gereis het – Linda uit Oudtshoorn waar sy tot in 2019 die algemene bestuurder van Kunste Onbeperk was, Michaela van Spanje waar sy dansers vir twee skepe opgelei het, en Jordan van Londen waar sy as projekbestuurder gewerk het.

Linda vertel: “My dogters het die reis na Praag beplan, en ons was so opgewonde daaroor. Dit sou ons ook na Rome neem en toe dit duidelik word dat Italië erg onder die virus deurloop en dit in Europa versprei het, het ons ons planne begin verander. Uiteindelik moes ons aanvaar dat die reis nie sou realiseer nie.”

Sy sê COVID-19 het egter ook Michaela en Jordan se werksomstandighede sodanig verander dat hulle huis toe moes kom.

Toe Spanje ’n staat van inperking asook ‘n vlugverbod na ander lande aankondig, het die maatskappy waarvoor Michaela werk, dadelik gereël dat die dansers kon huis toe vlieg. “Hulle het letterlik net ’n paar uur gehad vandat hulle gehoor het dat hulle huis toe sou gaan totdat hulle op hul vlugte moes wees.”

Die besluit dat Jordan moes huis toe kom, is geneem toe Suid-Afrika aangekondig het dat vlugte van die Verenigde Koninkryk verbied gaan word. “Ons was bekommerd dat sy maande lank alleen in ’n woonstel in Londen sou moes sit. Haar onderneming het al hul personeel opdrag gegee om tuis te werk, iets wat sy ook hier in Suid-Afrika kan doen.”

Linda en haar dogters het saam besluit om die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie te volg en hulle in selfkwarantyn te plaas, al toon nie enigeen van hulle siektesimptome nie.

Hulle het ook alternatiewe reëlings vir haar lewensmaat, Johan Brooks, getref omdat hy ’n diabeet is en hulle hom nie aan enige risiko wil blootstel nie.

“Wanneer hy by ons kan aansluit, sal ons sosiale distansiëring beoefen om sy veiligheid in die komende maande verder te verseker.”

Hulle hanteer die afsondering goed, sê Linda. “Ons maak die beste van ons tyd saam – ons is bedag in mekaar se ruimte en elkeen van ons hou haarself besig. Ons kook saam en maak elke dag saam skoon.

“Jordan het byvoorbeeld Vrydagaand ‘virtuele’drankies saam met agt van haar kollegas geniet – elkeen van hulle in selfkwarantyn in hul eie huise.

Ons het tyd vir video-oproepe na familie en vriende met wie ons gewoonlik net vinnig praat, ons lees en fliek en dink na oor die lewe, die aarde en ons toekomstige keuses.”

Linda sê sy bekommer haar oor die impak van die virus in Suid-Afrika.
“Behalwe die sterftes, dink ek ook dit kan vir baie ekonomies verwoestend wees, onsself inge­sluit.

“Ons is egter beïndruk met ons regering se hantering van die situasie tot dusver en ek is hoopvol dat Suid-Afrikaners saam die regte ding sal doen om die verspreiding te bekamp. Uit die sewe lughawens waardeur my dogters gereis het, waaronder Heathrow, Barcelona en Doha, was die in Suid-Afrika die enigstes wat enige vorm van toetsing of kontrole gehad het!

“Die vinnige verspreiding van die virus en die invloed daarvan op nasies regoor die wêreld laat jou kop draai! Ons het almal ’n verantwoordelik­heid teenoor mekaar om onsself en ander veilig te hou.

“Jy doen dit deur tuis te bly en so aktiwiteite wat jou naby ander mense bring, te minimaliseer.” (Deur Liesel le Roux)