Meer as 700 bome al geplant!

Die skewe boom. Foto: Stefaan Verlinde

DIE Bome van Hoop-projek van die Oudtshoorn Besigheidskamer het reeds sy doelwit vir Mei vanjaar oorskry met meer as 700 bome wat al geplant is!

Die projek wil teen 2025 meer as 100 000 bome (een vir elke inwoner) plant. Die mikpunt vir Mei vanjaar was 600 bome.

Die projek is verlede jaar in Mei geloods kort nadat die bekende skewe boom net buite Oudts­hoorn op die Calitzdorppad afgesaag is in opdrag van die Wes-Kaapse Departement Vervoer.

Daar is aanvanklik probeer om dié boom met ’n sogenaamde “Boom van Eenheid” buite die dorp te vervang, maar dit was nie moontlik nie as ge­volg van wetgewing oor die aanplant van ’n boom langs die pad of binne gebiede langs die pad.

“Ons beoog egter steeds om die skewe boom se nagedagtenis te vier deur die aanplant van ’n boom by elkeen van Oudtshoorn se vier ingange. Dié bome is reeds gereed by ’n kwe­kery op die dorp,” sê Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer.

Volgens Vorster het die aanvanklike Boom van Eenheid-gesprekke toe ’n tweede boomprojek, die Bome van Hoopprojek, geïnspireer.

“Dis ’n projek wat vir elke inwoner ’n boom wil plant omdat ons glo en hoop het in die toekoms op Oudtshoorn,” sê hy. Daar staan reeds 550 bome gereed by ’n kwe­kery op Oudtshoorn wat geplant moet word in die volgende fase van die projek.

“Die 100 000-bomeprojek wil die voorkoms van die dorp op ’n positiewe wyse verander.”

“Dit sal ’n belegging wees in ons omgewing en ons ekostelsel. En as ons genoeg bome plant, sal dit ons dorp afkoel,” lui ’n skrywe wat die Besigheidskamer verlede jaar aan sy lede gerig het.