Antwoorde op jou vrae oor die virus en die inperking

TEEN gisteroggend was daar nog geen mense op Oudtshoorn wat positief vir die COVID-19-virus getoets het nie, sê Hannes Stegmann, bestuurder van die Mediclinic Klein Karoo.

Teen Woensdag was daar 183 bevestigde COVID-19-infeksies in die Wes-Kaap. Landwyd het die syfer vir bevestigde gevalle gisteroggend op 709 gestaan. Daar was nog geen sterftes in die Wes-Kaap of in Suid-Afrika nie.

Volgens die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, was die gevalle teen vroeër Woensdag soos volg oor die provinsie se distrikte versprei: Kaapse Metro­pool: 143; Kaapse Wynlande: 9; Tuinroete (waaronder Oudtshoorn, Calitzdorp, Ladismith, Dysselsdorp en De Rust val): 12; Overberg: 5; Onbekend: 5.

Hy het aangedui dat die meerderheid gevalle gediagnoseer is by mense wat in die buiteland was, maar dat daar wel gevalle is waar die pasiënte geen reisgeskiedenis het nie.

Winde het Wes-Kapenaars gemaan om die verspreiding van die virus op alle maniere moontlik te probeer voorkom, onder meer om altyd ’n afstand van ten minste 1,5 m tussen hulle en ander mense te laat.

“Ons moet voortgaan om ons hande gereeld te was. Ons moet almal die ingrypende veranderings aan ons lewens aanbring om die versprei­ding te stop.”

The nasionale noodlyn is 0800 029 999 en die provinsiale noodlyn 021 928 4102.

Die plekke is almal gesluit:

• Die Oudtshoorn Verkeerskantoor is tydens die inperking gesluit en geen rybewyse, voertuig­registrasies, -lisensies en -toetsing sal hanteer word nie.

• Alle restaurante, kosafleweringsdienste, koffiewinkels en kafees is gesluit.

• Al Mosselbaai en George se strande is ge­sluit.

• Aftreeoorde en ouetehuise is gesluit vir besoekers.

• Poskantore is ook gesluit, behalwe vir SASSA-uitbetalings.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit

Die Oudtshoorn Munisipaliteit sal ook tydens die inperking gesluit wees, maar nood- en brandweerpersoneel is almal op gereedheidsgrondslag geplaas.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woord­voerder, sal die munisipale wetstoepassers die polisie ondersteun deur paaie tydens die inperking te patrolleer.

Mangqwengqwe sê daar is Maandag ’n Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) op Oudts-hoorn gestig, met die bestuurder van munisipale brand, reddings- en rampbestuur, Adél Supra-Vertue, as die koördineerder.

Die GOS word van­uit die brandweerdienste se kantoor bestuur met die Departement Gesondheid, Maatskaplike Ont­wikkeling, Provinsiale Verkeer, Oudtshoorn Verkeer, Wetstoepassing en Aifa wat ook daarby betrokke is.