DIE Wes-Kaapse minister van Finansies en Ekonomiese Geleenthede (DFEG), David Maynier, het Dinsdag drie toerismebesienswaardighede op Oudtshoorn besoek wat begunstigdes is van die departement se toerisme-ondersteuningsfonds.
Maynier is vergesel deur Ilse van Schalkwyk, hoofdirekteur ekonomiese sektorondersteuning by die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme. Die drie begunstigdes is Nova Hot Air Balloon Safaris, Buffelsdrift Game Lodge se jagluiperdervaring, en Wilgewandel. Hulle is onder 11 toerisme-instellings wat uit meer as 200 aansoeke in die Wes-Kaap vir steun geïdentifiseer is.
Maynier en sy span het die oggend afgeskop met ’n warmlugballonvaart, daarna het hulle by Buffelsdrift die wildsplaas se twee ontwykende jagluiperds probeer opspoor, en by Wilgewandel middagete geniet het.
Volgens Maynier is die fonds in Julie 2020 van stapel gestuur, met ’n bedrag van R5 miljoen wat beskikbaar gemaak is om nuwe of bestaande toerismeprodukte en ervarings te ondersteun, veral in plattelandse en kusdorpe regoor die Wes-Kaap.
“Die fonds is een van vele maniere waarop ons hard werk om die toerismesektor te ondersteun, wat swaar getref is deur die Covid-19-pandemie en in die Wes-Kaap gepaard gaan met aansienlike werkverlies.
“Dit is belangrik dat ons toerisme-ervarings ontwikkel wat die Wes-Kaap van ander bestemmings onderskei en verseker dat ons ’n wêreldklas- en mededingende opsie vir reisigers bly as die internasionale reis begin herstel,” het Maynier gesê.
Volgens Maynier sal die betrokke ondernemings soos volg baat:
• Nova is volgens Maynier ’n unieke onderneming in die Tuinroete wat sonsopkomsvlugte in Mosselbaai, George en Oudtshoorn aanbied. Nova sal met behulp van die fonds sy vloot ballonne kan uitbrei waarmee meer gereelde vlugte vir kleiner groepe aangebied kan word.
• Buffelsdrift – die fonds het reeds bygedra tot die vrylopende jagluiperd-ervaring wat deel uitmaak van die jagluiperd-metapopulasieprojek van die Endangered Wildlife Trust, en gaste die geleentheid bied om bewaring deur toerisme te ondersteun.
• Wilgewandel – die fonds sal hier help om die verskeidenheid unieke aktiwiteite uit te brei, en belê in nuwe aktiwiteite soos ’n BMX-baan, bergfietsroetes en ’n ‘trekkertrein’ vir kinders,” het Maynier gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Hupstoot vir Oudtshoorn se toerismebedryf
Maynier besoek
Oudtshoorn met hupstoot vir toerisme wat kom
Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, het Dinsdag drie toerismebesienswaardighede op Oudtshoorn besoek wat steun sal ontvang van die departement se toerismefonds. Een van die plekke was Nova Hot Air Balloon Safaris wat Maynier net na sonsopkoms oor die Klein Karoo geneem het (foto regs). Nadat Maynier ook die Buffelsdrift-jagluiperdprojek en Wilgewandel besoek het, het hy die Kango Grotte besoek waar die munisipaliteit sy ekonomiese herstel- en omkeerstrategie aan die Minister voorgelê het. Die Grotte is nie ’n begunstigde van die fonds nie. Op die foto bo gesels Steve Mouton (hoofgids by die Kango Grotte, regs) met Maynier. (Foto’s verskaf)