Huise vir Dysselsdorp: Leser vra en burgemeester reageer

Dysseldorp - Google Maps

LESER VRA – GELD VIR HUISE WEGGENEEM VAN DYSSELSDORP?

Gedurende Augustus 2018 was daar groot opgewondenheid nadat die des­tydse munisipale bestuurder, mnr Allen Paulse, en destydse direkteur behuising, me Shehaam Sims, bekend gemaak het dat Dysselsdorp na 25 jaar weer ’n behuisingsprojek gaan kry.

Die opgewondenheid was veral groot onder die inwoners van die informele nedersettings van Heinzview, Riemvasmaak, Paradise View en die Gaatjie, aangesien die projek hoofsaaklik hier­die inwoners sou akkomodeer.

Die projek sou bestaan uit 522 wooneenhede, 7 besigheidserwe, 2 kerk­persele, 1 kleuterskoolerf en openbare paaie. Die geraamde koste van die projek sou ongeveer R55,8 miljoen beloop. Ons is in besit van al die tersaaklike dokumente en briewe.

Die eerste fase van die projek wat ongeveer R20 miljoen beloop het, is suksesvol afgehandel. Dit behels die aan­lê van waterpype, rioolpype, storm­waterpype en die teer van die paaie.

In Januarie 2021 het die Wes-Kaapse regering R37,86 miljoen goedgekeur vir die voltooiing van die projek, dws die bou van die huise.

Gedurende ’n munisipale raadsvergadering/werksessie op 3 Februarie 2021 is die skoknuus onthul dat slegs 100 huise in Dysselsdorp gebou sal word.

Daar word betroubaar verneem dat die munisipaliteit die ander geld wat vir die Dysselsdorpprojek geallokeer is, gaan aanwend vir die bou van huise vir die plakkers langs die Oudtshoorn Gholfbaan.

Dit is voorwaar ’n skreiende skande dat die DA-beheerde munisipaliteit sulke skandelike besluite kan neem. Die inwoners van Heinzview bly al se­dert 2008 tussen die bosse, terwyl die in­­woners langs die gholfbaan maar se­dert 2019 daar begin hokke opslaan het.

Ook word betroubaar verneem dat dieselfde DA munisipaliteit R23 mil­joen wat vir Dysselsdorp Sportgronde toegeken is, verskuif vir ontwikkeling van sportfasiliteite in Oudtshoorn.

Die vraag ontstaan dus: Wie gee die Oudtshoorn Munisipaliteit die reg om geld wat vir Dysselsdorp geallokeer is, willens en wetens te skuif soos dit hulle pas? Die inwoners van Dysselsdorp soek antwoorde van die Oudtshoorn Munisipaliteit, want dit is nie die eerste keer dat geld wat vir projekte in Dysselsdorp goedgekeur is, na Oudtshoorn verskuif word.
Om net ’n paar te noem: die krieket­klubhuis by die Bridgton Sportgronde is destyds aan die Dysselsdorp Krie­ketklub toegeken. Die mobiele gimnasium wat in Bridgton staan, is ook des­­tyds aan die Dysselsdorp Rugby­-klub toegeken. Die opknappingswerk by die Oudtshoorn Uitvalwerke was aan die Dysselsdorp Uitvalwerke toe­geken.

Hierdie is maar die oortjies van die seekoei as dit kom by projekte wat van Dysselsdorp weggeneem is. Ek hoop die nuutverkose ANC-raadslid van Dys­­selsdorp gaan nie so oor hom laat loop soos sy DA-kollegas nie. Onthou die kiesers en gemeenskap van Dysselsdorp staan agter jou.

Ons as kiesers en inwoners van Dysselsdorp sê genoeg is genoeg. Ons weier om weer aan die agterste speen te suig waar dit kom by die ontwikkeling en vooruitgang van ons dorp.
– Besorgde inwoner, Dysselsdorp

BURGEMEESTER ANTWOORD – BEHUISING NOU NASIONAAL BEHEER

Dit is ’n infame leuen dat geld vir behuising weggeneem is van Dysselsdorp en op Oudtshoorn gespandeer gaan word, sê die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson.

Die Hoorn het die munisipaliteit genader vir reaksie nadat ’n lesersbrief van ’n Dysseldorper ontvang is waarin beweer word geld vir projekte word van Dysseldorp weggeneem en op Oudtshoorn aangewend.

Volgens Macpherson is daar wel groot veranderings ten opsigte van befondsing en behuising nadat die nasionale minister van samewerkende regering, Dlamini Zuma, verlede jaar ’n nuwe stelsel bekend as die District Develeopment Model (DDM) bekend gestel het. Behuising word nou nasionaal bepaal en via die provinsies en distriksrade geïmplementeer. Dit is nie meer ’n munisipale funksie nie en ’n munisipaliteit het nie beheer daaroor nie.

Covid-19 het ook veroorsaak dat Nasionale Te­sourie sy bydrae vir munisipaliteite met R17,4 miljard gesny het.

“Mense moenie behuising verpolitiseer nie. Al die raadslede was betrokke by ’n werksessie oor die uitdagings ten opsigte van behuising en die finansiële uitdagings wat Covid-19 vir die nasionale regering gebring het.
“Ek sal dit waardeer as die skrywer van die brief my persoonlik sal besoek en inlig waar hy of sy die inligting gekry het. As burgemeester wil ek dit duidelik stel: Ons moet nie kwaadwillig wees in dié tyd nie – niemand kon Covid-19 en die invloed daarvan voorsien nie.

“As ons wil begin vingers wys, kan ons vrae vra oor wat alles met die R10 miljard gedoen kon word wat die regering aan die SAL beskikbaar gestel het om hulle uit die verknorsing te kry.

“Die gevolge van Covid-19 hou in dat daar in munisipaliteite projekte gaan wees wat nie meer vanjaar geïmplementeer gaan word nie. Die bedrag wat van nasionale vlak af aan die provinsie beskikbaar gestel is vir behuising in die Groter Oudtshoorn, het gedaal van R45 miljoen na eers R32 miljoen en nou na R13 miljoen. Dit het geweldige implikasies vir die Groter Oudtshoorn.”

Macpherson sê die geld sal gaan vir die bou van 100 huise in Dysselsdorp.
“Ons verwag voor einde Februarie ’n besoek van die provinsiale minister van behuising, Tertius Simmers, om meer inligting hieroor te verstrek.”

Hy sê ook daar is geen waarheid daarin dat huise vir die plakkers by die gholfbaan gebou gaan word nie. “Mense wat dink hulle kan op ’n oop stuk grond begin plak en dat hulle dan ’n huis sal kry, slaan die bal ver mis.”

Macpherson sê die munisipaliteit is verlede jaar opdrag gegee om voor 7 Desember alle bouprojekte te hersien en inliging aan die nasionale regering deur te stuur, waarna die befondsing tot R13 miljoen verminder is.