Houtkruis herdenk 75 jaar

Bo: Die Graad 10- lidmate dra die houtkruis na sy nuwe plek in die kerktuin. Onder: Bo-aan die kruis is die Latynsewoorde INRI. Heelonder: Een van die uitstallings en blomme- rangskikkings wat deur die dames gemaak is. Foto’s verskaf

Die NG Kerk Oudtshoorn-Wes in Buitekantstraat, Oudtshoorn, het verlede naweek hul 75ste bestaansjaar gevier.

Die fees het op Donderdag 19 Oktober begin met ‘n heerlike gemeente-ete in die kerksaal.

Saterdagoggend was daar gesprekke oor die kerk in die huidige wêreldklimaat, en Louis Jordaan het vertel van die wonders van ons veldblomerfenis.

Daar is ook heerlik saam gekuier met tee en skons.

Sowat 25 dames van die kerk het skilderye met Bybelverse geskilder en uitgestal, ondersteun deur pragtige plant-en blommerangskikkings, wat die boodskap van die skilderye uitgebeeld het.

Na Sondag se feeserediens is daar ‘n groot houtkruis in die kerksaal se tuin geplant, en die gemeente het in die tuin saam nagmaal gevier.

Die feesnaweek is Sondagaand afgesluit met ’n jeugaand waar Adam Barnard vertel het hoekom hy die Here Jesus volg.

Na die afloop is ’n groot houtkruis van 6 meter op die kerk se grond geplant. Die kruisplanters is almal in Graad 10. Bo-aan die kruis is ’n bordjie aangebring waarop die woord “INRI” staan wat beteken, Jesus, die Nasireër, die koning van die Jode in latyns.

Die tieners het ook heerlik saam gekuier, ’n hamburger gebou en Christelike liedere saam gesing.
“Ons kon mekaar weer daaraan herinner dat die Here goed is!” het een van kerk se predikante aan Die Hoorn gesê. (Deur Angelique Erasmus)