
SEWE strukture is reeds op die N12 in Oudtshoorn tussen die Oudtshoorn-gholfbaan en die begraafplaas deur ’n groep wat hulleself die Backyard Dwellers of Hope noem, opgerig.
Vandag is die 11de dag wat die Backyard Dwellers of Hope die stuk grond beset.
Nog vyf strukture is reeds uitgemerk en sal in die volgende dae opgerig word.
Volgens Zyna Mduma, voorsitter vir die Dwellers, het hul geen ander opsie as om daar te bly nie.
“Ons was in 2010 deel van ’n projek van die munisipaliteit en hulle sou vir ons huise gegee het, maar hulle het van ons vergeet,” sê sy.
Hulle noem die gebied waar hulle bly Hopeville.
Daar is geen toiletgeriewe, lopende water of krag waar die mense aangrensend tot die gholfbaan en die provinsiale pad woon nie. Hulle sê hulle moet die bosse gebruik as hulle toilet toe wil gaan.
“Die munisipaliteit voel niks vir ons nie, en hier is vroue wat hier bly en die bosse moet gebruik. Dis gevaarlik. Hulle kan vir ons mobiele toilette bring, maar ons wag nog steeds,” sê Mduma.
Volgens haar was die burgemeester, Colan Sylverster, verlede week Maandag daar om met hulle te praat, maar niks verder het gebeur nie.
“Hulle het ons meegedeel ons kwessie word by die volgende raadsvergadering bespreek,” sê sy.
Die Polisie het Vrydag 14 vroue en een man van die terrein verwyder nadat ’n klag van betreding deur Godfrey Malgas, president van die Oudtshoorn Golfklub namens die klub by die polisie ingedien is.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie omstreeks 17:00 14 vroue en een man in hegtenis geneem. Hulle is egter teen 21:00 die aand vrygelaat.
Volgens Regan Brown, die Dwellers se regsverteenwoordiger, het hy ’n opdrag van sy kliënte ontvang om ’n siviele eis teen die polisie in te dien vir onregmatige arrestasie, onregmatige aanhouding en arrestasie sonder ’n lasbrief.
“Ek is deur ’n gemeenskapsleier gekontak en het besluit om hul gratis te verteenwoordig.”
Brown sê hy wag vir verdere opdragte vanaf sy kliënte.
Deur Angelique Erasmus