Oudtshoorn se koningin van fietsry, Yolande de Villiers, was Saterdag die eerste vrou oor die 36One-eindstreep.
Sy het nie net gewen nie, maar haar tyd van 15:00:22 het ook die vrouerekord wat sy in 2021 opgestel het, met 10 minute en 59 sekondes verbeter.
Die 36One is een van die mees uitdagende bergfietsrenne in die land en het Vrydag om 15:00 by Kleinplaas weggespring met ongeveer 500 fietsryers.
Wat hierdie bergfietsren so uniek maak is dat deelnemers slegs 36.1 ure het om 361 km te voltooi en regdeur die nag ook ry.
Vanjaar se manswenner was Dan Loubscher, met ’n nuwe rekordtyd van 12:34.
Hier volg ’n uittreksel van Yolandi se skrywe op sosiale media oor haar ervaring:
“Die 36ONE MTB Challenge is een van my gunsteling races en ek het regtig baie hard geoefen, opofferings gemaak en die ure ingesit sodat dit hierdie jaar goed kan gaan.”
“Age only matters if you are cheese or wine’, maar op 52 raak dit nogal moeilik om by die jongetjies by te hou en dit verg absolute dissipline, wilskrag en baie opofferinge.”
“Ek het ’n goeie wegspring gehad en my bene het so goed gevoel. Ongelukkig het ek my twee waterbottels verloor op Vergelegen se afdraande (15 km na die begin) en dit het so bietjie van ’n angsaanval veroorsaak. Gelukkig is ek redelik lig op water.”
“Ek is so dankbaar, trots en gelukkig dat ek die rekord kon breek: 15 ure en 22 sekondes. In 2021, toe ek die vorige rekord gebreek het, was ek in ’n sterk groep wat my baie gehelp het. Hierdie jaar was ek vir 120 km+ alleen.”
“Ja, ek is baie teleurgesteld dat ek nie 22 sekondes vinniger gery het om die R36 100 bonus te kon kry nie, maar geld is seker nie alles nie.”
“Ek het geen ‘fancy sponsors’ of borge nie. Ek en Henties de Villiers werk hard om die fietsry-ding moontlik te maak. Dit is ’n duur sport, maar my fiets is my ‘happy place’ en daarom is dit die moeite werd. Baie dankie Henties vir alles wat jy vir my doen.”
“Dankbaar om fiks en gesond te wees. ‘All glory to God!”
Nog Oudtshoorniete wat deelgeneem het en die ren voltooi het was Hans van der Veen en Jan en Yolande Ellis.
Jaco van Molendorf, Johan Neethling, Johan Griffioen, Bert Verlinde en Daniel Evrard het ook deelgeneem, maar ongelukkig nie voltooi nie.
Enzoe Ayford en Sinovuyo Gladwell Juries was die eerste Span oor die wenstreep vir The Half (196 km).
Langenhoven Gimnasium se skoolhoof, Alewyn Vorster, Lizelle Terblanche, Elzane van Blerk en Henkie du Plessis het ook aan ‘The Half’ deelgeneem. (ANGELIQUE ERASMUS)
Yolande breek 36One rekord
Bo: Yolande de Villiers was nie net eerste oor die wenstreep nie, maar het ook haar eie rekord met 10 minute en 59 sekondes verbeter tot 15:00:22. Foto’s: Oakpics
Onder: Sinovuyo Gladwell Juries en Enzoe Ayford was die eerste span oor die wenstreep vir die The Half (196 km).
Heelonder: Hans van der Veen neem ’n blaaskans en glimlag vir die kamera voor hy verder vertrek.