Publieke deelname begin: 54 munisipale erwe op die tafel

Foto’s: Facebook

Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, raadsheer Johan Allers, het Dinsdag (4 November) in ’n onderhoud met Die Hoorn duidelikheid gegee oor die voorgenome verkoop van munisipale erwe, persele en parkies. Hy het ook die openbare deelnameproses wat tans aan die gang is, deeglik uiteengesit.

Volgens Allers is deursigtigheid en publieke deelname sentraal tot die proses. “Dit is van kernbelang dat daar publieke deelname is, en dit is presies wat ons nou gaan doen met volgende week se vergaderings. Al die erwe gaan aan die publiek gewys word, met beskrywings,” sê hy.

Hy voeg by dat terugvoer uit die gemeenskap noodsaaklik is, aangesien nie alle erwe noodwendig vir verkoop geskik is nie.

“Ek het selfs gesien daar is ’n parkie wat reg langs die swembad is wat nou deel van die 54 erwe is. Dit sal byvoorbeeld nie sin maak om dit deel te maak van die veiling nie, en dit kan dan onttrek word. Daarom het ons publieke terugvoer nodig.”

Volgens Allers is daar tans 54 munisipale erwe wat vir veiling oorweeg word. Die volledige lys is beskikbaar op Die Hoorn se webtuiste: diehoorn.com/ oudtshoorn-municipal-notices/.

Die drie openbare vergaderings om wye deelname te verseker, sal volgende week plaasvind:
Dinsdag, 11 November 2025 – Banketsaal, munisipale hoofgebou, 18:00
Woensdag, 12 November 2025 – Thusong-sentrum, Bridgton, 18:00
Donderdag, 13 November 2025 – Dysselsdorp-gemeenskapsaal, 18:00

Die raad het bepaal dat die betrokke eiendomme nie benodig word vir die le-wering van basiese munisipale dienste nie. Daarom, sê Allers, is die voorgenome verkoop in die beste belang van die munisipaliteit en die plaaslike gemeenskap. “Sommige erwe is eenvoudig onprakties en dra nie werklik by tot die gemeenskap nie,” sê hy.

Inwoners word sterk aangemoedig om enige van die vergaderings by te woon en hul menings te lug. Amptelike beswaar- en kommentaarvorms sal by al die vergaderings beskikbaar wees vir skriftelike insette.

Vir dié wat nie kan bywoon nie, is die vorms ook by die munisipale hoofkantoor beskikbaar.
Allers sê die proses bied ook die geleentheid om sinvolle besluite te neem oor onderbenutte grond. “Daar is selfs gevalle waar ’n parkie dalk as te groot beskou word en gedeeltelik vir behuising gebruik kan word.

Elke erf het sy eie unieke potensiaal en kan, indien dit verantwoordelik bestuur word, ’n bydrae tot die gemeenskap lewer,” verduidelik hy.

Hy wys verder daarop dat die kwessie van oop spasies op Oudtshoorn ’n ander konteks het as in digter stedelike gebiede, aangesien die dorp oor ’n lang strook ontwikkel is. Die video-onderhoud met burgemeester Johan Allers is beskikbaar op Die Hoorn se Facebook-blad, waar inwoners dit kan kyk om meer insig te kry oor die proses. (MALISSA SPIES)