Kwessies in middedorp word aangespreek

Bo: Boetes is deur wetstoepassers uitgereik. Onder: Die burgemeester en wetstoepassers van sy geselskap tydens die besoek.

In ’n gesamentlike optrede deur die munisipaliteit, die burgemeester se kantoor en die polisie is verskeie brandpunte in die middedorp verlede Donderdag 3 Julie, besoek. Die inisiatief is deur die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, en die GPF (gemeenskapspolisiëringsforum) geloods.

’n Groot groep SAPD-lede, wetstoepassers en amptenare en werkers van die departement van gemeenskapsdienste het vanaf 09:00 tot na 12:00 verskillende plekke in die middedorp besoek. Daar is veral gefokus op areas en kwessies wat deur inwoners en sakelui onder die munisipaliteit se aandag gebring is.

Terwyl die wetstoepassers en SAPD-lede veiligheids- en verkeers-kwessies aangespreek het en ook boetes uitgereik het, het die burgemeester hom vergewis van die toestand van sypaadjies, toeganklikheid vir rolstoelgebruikers, rommelstrooi, parkeerspasie, algemene netheid en die toestand van persele. Hy het ook besighede besoek om insette te ontvang en het geruime tyd by die taxi-staanplek spandeer.

Hy het onder andere ’n eet- en kuierplek in Adderleystraat aan die gesondheidsinspekteur gerapporteer waar ’n karkas sommer in die eetplek opgesny en die rou vleis op die toonbank verwerk word. Daar is ook aandag gegee aan ’n naburige gebou wat tans leeg staan en deur onwettige inwoners beset is.

Die burgemeester se kantoorbestuurder het aantekeninge gemaak van klagtes wat ontvang is en daar is onderneem om so spoedig moontlik aandag aan die kwessies te gee.

Na afloop van die operasie het die kantoor van die burgemeester Maandag ’n verklaring uitgereik waarin die volgende kwelpunte wat tydens die besoek onder sy aandag gebring is, genoem word:

  • Onwettige karwagte wat inwoners en besoekers intimideer.
  • Stukkende en onveilige sypaadjies wat veral vir bejaardes en mense met gestremdhede ’n gevaar inhou.
  • Verstopte dreinering wat tot oor-stromings en slegte reuke lei.
  • Onkruid wat strate ontsier en strukture beskadig.
  • Vuil stegies tussen winkels wat nie net onveilig is nie, maar ook as skuilplekke gebruik word.
  • Onwettige handelspraktyke.
  • Onwettige besetting van persele.
  • Onhigiëniese toestande en onvoldoende toiletgeriewe by die taxi- staanplek en onwettige vure. Dit het ook aan die lig gekom dat mense onwettig in die area bly.
  • Uitstaande huurkontrakte van stalletjiehouers by die taxi-staanplek.

Allers het onderneem om dié kwessies as sake van dringendheid te hanteer. ’n Volledige verslag oor elke kwessie word tans voorberei om aan hom en aan die direkteur van gemeenskapsdienste voorgelê te word.

“Hierdie sal beslis nie ’n eenmalige besoek wees nie. Ek is vasbeslote om sulke operasies gereeld uit te voer en opvolgaksies te loods om te verseker dat ons middedorp funksioneel, veilig en skoon is – soos dit hoort. Die sakekern is die hart van ons dorp – dit moet klop van lewe, veiligheid en orde,” het hy in die verklaring gesê. (HANNES VISSER)

Vars vleis wat onwettig in ’n kuierplek verwerk is.

Lede van reinigingsdienste maak ʼn verstopte stormwaterdrein skoon.