Huise langs rivier geteiken deur bosslapers

Raadslid Johan Fourie Maandag langs die Grobbelaarsrivier op ’n plek waar mense duidelik skuil. Fourie het aangedui dat hy hom daarvoor gaan beywer dat die rivier skoongemaak word sodat mense nie die rivieroewer vir ’n wegkruipplek kan gebruik nie. Foto: Schalk le Roux

VEERTIEN inbrake en derduisende rande se skade by een inwoner se huis sedert die aanvang van die pandemie.

’n Man wat in die nag teen mure en trappe uit­klim om van ’n balkon af in die slaapkamer van twee bekende Oudtshoorniete te probeer inkom.

Dit is tans die realiteit van inwoners van Taute- en Oranjestraat in Wesbank, Oudtshoorn, met mense wat klaarblyklik vanaf die beboste Grobbelaarsrivier huise in die omgewing teiken.

Maandagmiddag het die raadslid vir Wyk 3, Johan Fourie, saam met Die Hoorn die rivier besoek. Uitgetrapte voetpaadjies tussen die digte bos­se, rommel wat oral rondlê en gate in die draad het gewys dat mense daar skuil en rondbeweeg. Fourie sê hy sal hom daarvoor beywer dat dié gebied langs die rivier skoongemaak word sodat mense dit nie langer as skuilplek kan gebruik nie.

Een van die inwoners uit die omgewing, Alet Coetzer, sê op haar beurt die skoonmaak van die bosse om die rivier is volgens baie van hulle die enigste antwoord omdat dit mense sal verhinder om daar te slaap en weg te kruip.

‘Op soek na water’
Hy is op soek na water. Dit was die antwoord van ’n man wat Vrydag in die vroeë oggendure vanaf ’n balkon by ’n slaapkamer van twee be­kende Oudts­hoorniete, Nico en Toy Ungerer, pro­beer inkom het toe hy gevra is wat hy daar maak.

Toy vertel dat sy en Nico vroeër die nag wakker geword het en later kombuis toe is om iets te gaan eet. Hulle is terug na hul slaapkamer waarna sy nog ’n ruk lank gelees het voordat sy vaak geraak het. Voordat sy egter vas begin slaap het, het sy gehoor hoe iemand die handvatsel van hul slaapkamerdeur van die balkon se kant af draai.

Sy het Nico wakker gemaak wat by die man wou hoor wat hy op hul balkon soek.

Volgens Toy is dit nie maklik om van buite tot op dié balkon te kom nie en glo sy dié man, wat swart klere en ’n swart masker gedra het, was al voorheen in hul erf.

Dit was in hierdie stadium dat die man gesê het hy is op die balkon omdat hy op soek is na water. Hy het egter net hierna op die vlug geslaan en in die proses van die hoë balkon afgespring en homself duidelik baie seergemaak.

Hy het wel sukkel-sukkel van die huis af begin wegkom in die rigting van die oop stuk grond langs die Grobbelaarsrivier, maar toe hulle die volgende oggend teen ligdag na buite kyk, het hy nog daar naby gesit en mense probeer roep om hom te kom help.

Sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, sê die man het sy hak gebreek toe hy van die balkon af gespring het nadat hy deur die eienaar gekonfronteer is.

“Hy kon nie beweeg met die gebreekte hak nie en is Vrydagoggend deur die polisie in hegtenis geneem waar hy nog in die omgewing gesit het.

Hy is volgens Michaels 38 jaar oud.

Seker al 14 inbrake in ’n jaar
Nog ’n inwoner, Morkel Mulder, sê hy het nou sy huis met ’n muur en pallisades gepantser nadat daar wild en wakker sedert die aan­vang van die pandemie verlede jaar gesteel is. Mulder wat ’n gastehuis in Tautestraat bedryf, sê hy het astronomiese skade die afgelope jaar gely.

Dit wil voorkom of koper en ander voorwerpe wat verkoop of herwin kan word, gewild is by dié diewe. Oor die maande is byvoorbeeld pype langs ’n badkamer gesteel, asook ysterpaaltjies, ’n swembadpomp, tuinstoele en selfs die plastiekknoppe van krane.

“Terwyl ek verlede jaar in die VSA was, het iemand ’n deur met ’n graaf oopgebreek om toegang te kry.
“Die ouens hou jou dop en weet wanneer hulle ’n kans kan vat om te steel. Ek werk gewoonlik tot laat in my tuin en die diefstal buite was gewoonlik tussen 23:30 en 05:30.

“Die hartseerste is egter dat die goed wat die diewe waarskynlik vir ’n paar rand verkoop, my duisende rande kos om te vervang.” (Deur Liesel le Roux)

2 Comments on "Huise langs rivier geteiken deur bosslapers"

  1. Daar was n man 2 weke gelede op ons dak. Ek het uit gegaan but hy het af gespring en hard op sy gesig geval. Ek het agter hom gery en hy het river toe gehardloop en daar tussen bosse verdwyn

  2. Loffiebotha | 03/19/2021 at 12:24 |

    As die geagte raadslid net die alewige beloftes nakom kan dit net beter gaan,maar helaas.

Comments are closed.