Groot planne vir rivier en brug

Chris Macpherson, Oudtshoorn se burge­mees­­ter, gister by die historiese hangbrug langs die Grobbelaarsrivier op Oudtshoorn - twee bakens op Oudtshoorn wat geoormerk is vir herstel en ontwikkeling. Foto: Stefan Skapie Goosen

BEPLANNING om die Grobbelaarsrivier wat deur Oudtshoorn vloei, skoon te maak en te ont­wikkel tot ’n veilige groenstrook in Oudtshoorn is reeds in ’n gevorderde stadium, sê die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Mac­pherson.

Dié planne sluit ook die opgradering van die hangbrug in Kerkstraat in wat reeds geruime tyd gesluit is omdat dit nie veilig is vir gebruik nie.

Macpherson het tydens ’n netwerkaand van Oudtshoorn en De Rust Toerisme verlede Donder­dagaand (13 Mei) kortliks na dié inisiatief verwys. Tydens ’n onderhoud met Die Hoorn Dinsdag het hy meer lig op dié planne gewerp.

Met die rehabilitasie en vernuwing van die ri­vier, kom daar volgens Macpherson baie voordele en opsies.

“Ons wil die omgewing in ’n toerismeaantreklikheid verander tot voordeel van Oudtshoorn se mense en besoekers. Dit sluit ’n kronkelende wandelpad in wat langs die rivier en ook oor die rivier sal loop, keerwalle in die rivier om die watervlak konstant te kan hou vir moontlike kanovaart, en inhamme waar mense kan rus, of waar kunstenaars en musikante mense kan vermaak.”

Volgens Macpherson word die vestiging van so ’n wandelpad tesame met die restourasie van die historiese hangbrug tot sy oorspronklike glorie, in diepte ondersoek.

Planke waarmee die wandelpad gebou sal word, sal moontlik van herwinbare plastiek gemaak word, en dié gedeeltes wat oor die ri­vier loop, sal só gebou word dat vloedwater dit nie kan meesleur nie omdat dit soos ’n tipe swaaibrug sal wegbeweeg.

“As ons vind dat die hout wat ons beoog om te gebruik nie voldoende gaan wees nie, sal herwinde plastiekplanke perfek werk. Oudts­hoorniete sal selfs ’n plank kan koop en hul name daarop plaas. Ons ondersoek talle opsies,” sê Macpherson.

Die hangbrug is volgens Macpherson ’n kardinale deel van die projek.

“Maar ons wil dit só restoureer dat die instandhouding van die brug volhoubaar is, en terselfdertyd ons inwoners wat die brug gebruik se vei­­lig­heid verseker.”

Wat die skoonmaak en beveiliging van die rivier oor sy hele lengte deur die dorp betref, sê Mac­pherson dat dit op ’n holistiese manier benader moet word.

Volgens hom is Oudtshoorn se pro­bleme en ont­wikkeling in die verlede op ’n gefragmenteerde manier benader.

“Ons kan dit net nie meer so doen nie. Ons moet alles in ons dorp op ’n holistiese manier benader, en onder een sambreel plaas. ’n Nuwe, oorhoofse benadering is nodig en ’n kopskuif moet gemaak word. Die perfekte voorbeeld hiervan is die benadering wat met probleme ten opsigte van die Grob­belaarsrivier gevolg moet word.”

In die verlede het òf die munisipaliteit, òf CapeNature die rivier skoongemaak. Nou sal daar gestreef word na groter samewer­king tussen dié twee entiteite asook die aanvaarding van eienaarskap deur inwoners.

Volgens Macpherson wil die munisipaliteit wegbeweeg van ’n aanhoudende konsultasieproses wanneer dit by ontwikkeling kom, na ’n deelnameproses.

“Dit is waar die nege pilare van ons Visie 2030 inkom. Die rivier en hangbrug val byvoorbeeld onder die omgewingsake-been, maar dit oorvleuel ook met dié van infrastruktuur, toerisme en mense,” sê hy.

Daar word beoog om ’n adviesliggaam op die been te bring wat konstant aandag sal skenk aan kwessies op die dorp, ongeag van wie aan die stuur van sake by die munisipaliteit is.

Die Grobbelaarsrivier-ontwikkelingsprojek, soos met enige ander toekomstige projek, móét volgens Macpherson volhoubaar wees. Hy sê kundiges op nasionale, provinsiale en distriksvlak is reeds ge­raadpleeg vir advies oor die skoonmaak van die Grobbelaarsrivier.

“Skoonmaak sluit nie net die sny van riete en die optel van rommel in nie. Ons stel ook ’n plan saam wat indringerplante sal uitwis tot bokant die opvangsgebied van die Raubenheimerdam; en op die veiligste manier moontlik vir Oudtshoorn se mense en die omgewing.”

Volgens hom sal arbeid nie ’n probleem wees nie met die EPWP (uitgebreide openbare werke-program) wat arbeid sal verskaf. “Die nasionale regering is self reeds baie opgewonde oor die projek, veral wanneer dit by die uitroei van indringerplante kom,” sê Macpherson, self duidelik opgewonde oor die omvang en impak wat dié projek kan hê.

(Deur Stefan Skapie Goosen)