Dysselsdorper blink uit vir Tuks

Clyde Lewis. Foto: Varsity Cup

WANNEER Tukkies en Maties mekaar Vrydag in die halfeindronde van die Varsity Beker-toernooi pak gaan dit ’n riller wees. Plaaslike rugbyliefhebbers kan gerus kyk, want ’n boorling van Dysselsdorp, Clyde Lewis, kan dalk net vir Tuks help om die eerste keer sedert 2017 koning te kraai.

Die skrumskakel is een van die “streeptruie” se groot uitblinkers. Telkens wanneer hy die bal dra, laat hy teenstanders bontstaan. G’n wonder hy is een van Tuks se voorste driedrukkers nie!

Lewis het verlede jaar nog heelagter vir Tuks se o.20-span gespeel. Hy was ook die kaptein en was toe al ’n driedrukker.
Toe Tuks se afrigter Nico Luus hom vra om dit te oorweeg om skrumskakel te speel, het Lewis besef ’n posisionele verandering kan beteken dat my minder speelkans kry. Maar vir hom gaan rugby oor wat die beste vir die span is. Hy hou boonop van ’n uitdaging.

Lewis het dadelik by die Springbokskrumskakel, Embrose Papier, kers opgesteek oor wat van ’n goeie “nommer nege” verwag word. Toe Papier ’n paar basies riglyne gee, het Lewis mooi geluister. Die res is geskiedenis. Vandag is Lewis ’n uitblinker agter die Tukkieskrum.

Dit was nie die eerste keer dat Lewis by ’n Springbok gaan raad vra het nie. As heelagter het hy sy spel geskoei op die van sy Wêreldbeker-held, Cheslin Kolbe. “Cheslin het bewys dit gaan nie oor hoe groot of sterk jy is nie. Alles gaan oor durf.”

Lewis is een van die veelsydigste spelers in die Varsity Bekertoernooi. Dit gebeur gereeld dat hy as skrumskakel opdraf en later vleuel toe skuif.

Op skool was Lewis ’n ywerige naelloper. Hy spog met ’n beste tyd van 10,8 sek in die 100 meter.

Volgens Lewis sal hy sy ma ewig dankbaar wees dat sy besluit het dat hulle na George moet verhuis. “Dit was ’n drastiese besluit, maar my ma wou gehad het ek moet die beste kans kry om my volle potensiaal te ontgin. My pa was ’n goeie sokkerspeler, maar hy het nie die kans gekry om sy talent te ontwikkel nie,” vertel Lewis wat aan die Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer het.

Om te ontspan en van sy studie en rugby te vergeet geniet die Tukkie om gholfballe vanaf die oefenbof te slaan.

(Deur Wilhelm de Swardt)