
Die Hoorn het Dinsdag op Facebook berig oor die Oudtshoorniet, Willem (Wappie) Pretorius, wat sy afgetrede snuffelhond, Buster, van Irak na Suid-Afrika wil bring, maar dat die koste bykans R100 000 sal beloop.
Binne ’n dag na die berig is Wappie oorval met boodskappe van persone wat bydraes wil maak. Onder andere het die lugredery aangebied om Buster se vliegkaartjie teen ’n heelwat laer tarief te voorsien. Buiten die aanbiedinge van mense is daar reeds R4 000 met Willem en Buster se Back-a-buddy-veldtog ingesamel.
Die verstommende nuus is dat Buster se tuiskoms binne een dag soveel aandag geniet het dat al die geld ingesamel is om hom huis toe te bring sodat hy na sy loopbaan in Irak as springstofhond in Oudts-hoorn kan kom aftree.
Selfs Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, het die plasing gedeel.
Die spertyd vir Willem om Buster Suid-Afrika toe te bring is 4 April.
Pretorius doen die afgelope 20 jaar sekuriteitswerk in Irak met snuffelhonde wat springstof in voertuie opspoor en die veiligheid van die werknemers en kliënte verseker.
Een van hierdie honde is Buster, die 9-jarige Springer Spaniel, vanuit Engeland.
Pretorius het Buster as kollega gekry toe hy 18 maande oud was, en hulle werk die afgelope 7 jaar baie nou saam.
In sy tyd in Irak het Pretorius oor die jare sowat sewe honde gehad. Hulle is almal na Amerika waar hul afgetree en aangeneem is.
“Ek kon nooit voorheen ’n hond aanneem nie, maar Buster is vir my baie spesiaal en soos ’n kind. Ek het ’n wonderlike geleentheid om hom aan te neem, maar dit kos $5 000, bykans R100 000, om hom na Suid-Afrika te bring,” het hy Maandag vanuit Irak aan Die Hoorn vertel.
Toe die geleentheid hom voordoen het hy dadelik gespring en begin reëlings tref om dit te kan befonds. Daar is ’n Back-a-Buddy-veldtog begin, om genoegsame fondse in te samel om Pretorius te ondersteun.
Buster is nie net vir Pretorius soos ’n kind nie, maar ’n merkwaardige hond. Hy kan 11 verskillende soorte springstof uitsnuffel en het in die sewe jaar wat hy in diens was, nog nooit plofstof deur die hekke laat glip nie.
“Hy het sy hele loopbaan, almal hier veilig gehou en baie lewens gered. Dit is net regverdig dat hy ’n gelukkige aftrede moet hê, waar hy kan speel en deur ’n familie vertroetel kan word,”
Voordat Pretorius in Irak gaan werk het, het hy sowat 10 jaar in Oudtshoorn by die honde-eenheid gewerk.
Die Hoorn sal daar wees in April om Buster te verwelkom met sy aankoms in die Klein Karoo.
Wappie en Buster bedank elkeen wat so vinnig gereageer het op hul noodkreet en bygedra het tot hierdie droom wat nou waar geword het. (ANGELIQUE ERASMUS)