

Talle inwoners en lede van die publiek is woedend nadat dit aan die lig gekom het dat Sydney Berry, die bestuurder van die motor waarin Marilize Nortier (18) in 2019 gesterf het, weer in ’n ongeluk betrokke was.
Berry is vanjaar op Sondag, 18 Februarie 2024, op die aanklagte van dronk-, nalatige- en roekelose bestuur in hegtenis geneem, nadat hy om 21:55 in ’n ongeluk op die N2 betrokke was, naby die George Lughawe afdraai.
Volgens ’n nasionale mediaberig, wat Sondag verskyn het, moet Berry op 19 Augustus 2024 in die George landroshof verskyn. Hul berig daar word nog gewag op die uitslae van sy bloedtoetse.
Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, ondersoek die George-polisie ’n saak van dronk-, roekelose- en nalatige bestuur.
“Verslae tot ons beskikking dui daarop dat die polisie gereageer het op ’n toneel waar twee voertuie op die N2 gebots het naby die afdraai na die George-lughawe op 18 Februarie 2024 omstreeks 21:50.
’n 26-jarige man is op bogemelde aanklagte in hegtenis geneem. Hy is later vrygelaat en gewaarsku om op ’n latere datum in die hof te verskyn, terwyl die polisie wag op die uitkoms van forensiese bewyse”, het Spies aan Die Hoorn bevestig.
Berry is tans nog nie skuldig bevind op die nuwe klagtes soos bo genoem nie.
Die Hoorn het die mening van ’n regskenner ingewin oor die saak. Volgens die kenner is die opgeskorte vonnis slegs van toepassing op die skuldigbevinding van manslag. Berry is nie op klag van dronkbestuur skuldig bevind tydens sy saak nie. “Berry se korrektiewe beampte sal dus moet ondersoek instel of hy wel van die voorwaardes van sy huisarres oortree het, en dan ’n verslag opstel,” sê hy.
Daarna sal die verslag aan die hof gestuur word, waarna daar besluit sal word of Berry wel verder vervolg sal word. Die saak sal in alle waarskynlikheid dan na die Oudtshoorn Landdroshof geskuif word, waar sy oorspronklike vonnis en skuldigbevinding plaasgevind het.
Hier volg Berry se vonnis en voorwaardes:
Berry is einde Mei 2023 aan strafbare manslag skuldig bevind maar onskuldig op twee ander aanklagtes naamlik roekelose bestuur en versuim om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen.
Berry is direkte tronkstraf opgelê van twee jaar, maar dit is vir vyf jaar opgeskort.
Dit beteken dat Berry vir die volgende vyf jaar hom nie skuldig mag maak aan enige soortgelyke misdade soos strafbare manslag nie, anders sal die tronkstraf in werking tree.
Hy is ook drie jaar korrektiewe toesig opgelê, wat beteken dat hy onder huisarres is.
Hy mag vanaf 2023 vir drie jaar slegs by sy ouers se huis bly, en Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 19:00, Saterdag van 08:00 – 14:00 en Sondae van 08:00 – 13:00 vanaf die perseel beweeg.
Vir drie jaar moet Berry ook maandeliks 16 uur gemeenskapsdiens verrig, wat beteken hy moet 576 ure gemeenskapsdiens in die volgende drie jaar voltooi.
Hy moet ook deelneem aan programme waar hy behandeling sal ontvang en aan ondersteuningsprojekte deelneem vir drie jaar.
Hy mag ook net in Mosselbaai en George se magistraatsarea beweeg, en sal slegs per goedgekeurde aansoek die area verlaat indien nodig.
Hy mag ook geen alkohol of dwelms gebruik vir die volgende drie jaar nie.
Hy mag ook by geen kriminele aktiwiteite betrokke raak nie.
Marilize Nortier was in September 2019, saam met Berry in sy motor op die Kango grotte-pad, toe die BMW die pad verlaat het en in ’n watersloot beland het.
Berry het uit die motor geklim, en volgens sy getuienis in die hof kon hy nie onthou het dat daar iemand saam met hom in die motor was nie.
Die nadoodse ondersoek wys dat Nortier verdrink het. (Deur Lindi Brill & Angelique Erasmus)