Honderde by #ZumaMustFall-protes op Oudtshoorn

Protes op Oudtshoorn,

‘n Deel van die skare by vanmiddag se protes op Oudtshoorn. Foto: Schalk le Roux

‘N PAAR honderd Oudtshoorniete en besoekers aan die dorp het oor die etensuur in Baron van Reedestraat bymekaar gekom as deel van die landwye #ZumaMustFall- en #SouthAfricaWillRise-protesoptredes wat vandag landwyd plaasvind.

In kontras met die erns van die byeenkoms was Baron van Reedestraat reeds vandag getooi in sy feesklere vir die KKNK wat môre op die dorp afskop.

Baie van die teenwoordiges het plakkate omhoog gehou, terwyl ‘n groep ook in ‘n stadium saamgebid en gesing het.

Een man het met ‘n vuvuzela die byeenkoms probeer ontwrig en nie op verskeie versoeke van teenwoordiges gereageer om net op te hou blaas nie. Die inwoners wat die byeenkoms geïnisieer het, het gevra vir stil en vreedsame protesoptrede. Die man, Sam Coetzee, se weiering om op te hou, het in ‘n stadium tot ‘n ligte konfrontasie tussen hom en van die ander aanwesiges gelei.

Die kunstenaar Karen Zoid is in die skare opgemerk met ‘n plakkaat met die woorde “Remember Khwezi” daarop, terwyl ‘n oogkundige van die dorp, Jaco Kriek, baie aandag getrek het met ‘n stortkop op die kop.

Nog foto’s sal volg.