Hofsaak skop 2 jaar na skietdood af

Justin Booysen. Foto verskaf

DIE verhoor van vier verdagtes van Rose­bank, Oudts­hoorn wat van die moord op Justin Booysen in 2019 aan­gekla word, het uiteindelik op 10 November in die Oudtshoorn Streek­hof afgeskop met die getuienis van ’n vriend van Booysen wat die betrok­ke aand saam met hom was.

Simphiwe Ndoni, Ephrahim Malgas, Brey­ton Bruiners en Lorenzo Malgas staan tereg op klagtes van moord, poging tot moord, aanranding om ernstig te beseer en die onwettige besit van ’n vuurwapen, terwyl Malgas, alombekend as Speekbout, ook aangekla word van sameswering om moord te pleeg.

Al vier pleit onskuldig.

Die staat beweer dat die vier met dieselfde oogmerk opgetree het toe Booysen doodgeskiet is. So ook dat hulle vir Christopher Naude met ysterpype geslaan, in besit was van ’n ongelisensieerde vuurwapen waar­mee Booysen geskiet is en gepoog het om Jessy Dyssel te dood deur na hom te skiet.

Malgas word ook daarvan aan­ge­kla dat hy in Januarie 2020 naby die Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum saamgesweer het om ’n staatsgetuie, Jessy Dyssel, te laat doodmaak.

Dyssel het Woensdag getuig dat dit Ndoni was wat die aand van 17 November 2019 vir Booysen in sy huis doodgeskiet en hy platgeval het. Ndo­­ni het glo twee skote afgevuur.

Terwyl die oorledene op sy rug op die vloer gelê het met bloed wat uit sy mond gekom het, het Speekbout glo deur ’n venster gekyk voordat hulle die toneel verlaat het.

Volgens Dyssel was hy en die oorledene vroeër die aand by Ghandi’s Tavern waar hulle ook die vier ver­dagtes raakgeloop het. Toe hulle wou loop, het Speekbout vir Booysen eenkant toe geroep en hy kon hoor hoedat die oor­ledene vir Speekbout sê dat hy baie respek vir hom het. “Justin het baie benoud gelyk toe ons terugry en vinnig gery het,” het Dyssel getuig.

Volgens Ndoni en Speekbout se regsverteenwoodiger, Wenzel Botha, sal Doni getuig dat hy en Speekbout na Booysen se huis gegaan het om drank te bestel. Toe Dyssel hulle opmerk, het hy onmiddellik na sy baadjiesak gegryp en het dit gelyk asof hy ’n wapen wou uithaal. In ’n struwe­ling daarna het ’n skoot glo afgegaan wat Booysen getref het.

Die saak was vir drie dae op die hofrol, maar is na twee dae as gevolg van beurtkrag deur streeklanddros Kenneth Peters van Kaapstad vir verdere verhoor tot April 2022 uitgestel met Dyssel wat steeds onder kruisverhoor is.

Mervyn Saayman is die aanklaer in die saak.

Ndoni en Ephrahim Malgas dien tans vonnisse van onderskeidelik vyf en drie jaar uit vir handel in dwelms terwyl Bruiners en Lorenzo Malgas op borg is. (Garnett Wicomb)