DIE Hooggeregshof (Oostelike Kring se plaaslike afdeling in Thembalethu) het besluite wat Vrydag deur dertien raadslede op Oudtshoorn geneem is oor die aanstelling van drie waarnemende senior amptenare by die munisipaliteit tot 9 September opgeskort.
Volgens die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het die munisipaliteit geen ander keuse gehad as om hulle na die hof te wend nie omdat die besluite in stryd is met die munisipale strukturewet en die Grondwet. “ ’n Munisipaliteit kan nie toelaat dat onwettige besluite geneem word nie. Dit sou beteken ons kondoneer dit en kan dan later daarvoor verantwoordelik gehou word. Dit kan ook koste-implikasies vir die munisipaliteit hê,” het hy Dinsdag gesê.
Die dertien raadslede van Icosa, Sarco, die ANC en die EFF het Vrydag by ’n spesiale raadsvergadering ’n voorstel van raadslid Vlancio Donson (Icosa) gesteun dat Zoe Lesia, hoof van parke, voortaan sal waarneem as direkteur gemeenskapsdienste; Reginald Smit nie langer as munisipale bestuurder sal waarneem nie en moet terugkeer na sy pos as direkteur korporatiewe dienste; en dat Walter Hendricks vanaf 1 September as munisipale bestuurder sal waarneem.
Regter NC Erasmus het op grond van ’n dring-ende aansoek van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit beveel dat dié besluite opgeskort word todat hy die saak op 9 en 10 September aanhoor.
Volgens hofstukke is voorskrifte van die munisipale strukturewet en die Grondwet oor prosesse wat gevolg moet word, tydens die neem van die besluite oortree en is die besluit dus onwettig.
Die dertien raadslede betrokke is ook die respondente in die hooggeregshofsaak.
Regter Erasmus se bevel beteken dat die status quo op Oudtshoorn tot 9 September gehandhaaf moet word met Smit steeds as waarnemende munisipale bestuurder, Deon Visagie as waarnemende direkteur gemeenskapsdienste en Luyanda Fatuse as direkteur korporatiewe dienste.
Daar was vandeesweek talle bespiegelinge oor waarom die groep partye die waarnemende direkteure sou wou vervang. Die Hoorn het navrae aan raadslede Donson, Juthe en Tyatya gestuur oor die rede vir hul partye se besluit om Smit met Hendricks te vervang, maar nie reaksie ontvang nie.
Daar is heelwat omstredenheid rondom Hendricks. Hy was tot in Desember verlede jaar direkteur gemeenskapsdienste by die George Munisipaliteit en het dieselfde pos tussen 2010 en 2012 op Oudtshoorn beklee. Hy staan tans saam met onder meer Trevor Botha, voormalige munisipale bestuurder van George, en Melvin Naik, voormalige burgemeester van George, tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie in verband met Naik se “War on Waste”-projek toe hy burgemeester was.
DA/Sarco/Icosa-samewerking daarmee heen?
Die DA, Sarco en Icosa wat die Groter Oudtshoorn sedert Julie/Augustus 2020 saam bestuur het, se samewerking is waarskynlik ná die gebeure van die afgelope week daarmee heen.
Macpherson het Dinsdag gesê hy is steeds die burgemeester van Oudtshoorn en dat bewerings dat Juthe ná Vrydag as burgemeester waarneem, nie korrek is nie. (Deur Liesel le Roux)