Weyers en Jacobs-verhoor: Ma pleit by hof om borgtog te weerhou

Fritz Jacobs en Tammy Weyers. Foto Facebook

Tammy Weyers gister buite die Oudtshoorn Landdroshof nadat sy borgtog gekry het. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE hof het gister nie borgtog toegestaan aan een van die twee Oudtshoorniete wat op 26 September met ’n Hyundai-bakkie van Badenhorst Slaghuis en meer as R400 000 verdwyn het nie. Hulle is die volgende dag op Knysna in hegtenis geneem.
Landdros Roelf Konstabel het borgtog vir Fritz Jacobs geweier, maar borgtog van R2 000 aan sy vriendin, Tammy Weyers, toegestaan. Volgens die borgtog-voorwaardes mag sy haar woonplek daagliks net tussen 06:00 en 18:00 verlaat vir werk.
Jacobs, wie se ma Dinsdag by die landdros gepleit het om nie aan haar seun borgtog te gee nie op grond van sy geskiedenis van dwelmmisbruik en depressie, bly in aanhouding.
’n Soms emosionele Johanna Catarina Oosthuizen, het aan die hof gesê dit sal nie in haar seun se beste belang wees om op borgtog vrygelaat te word nie. Volgens haar is daar mediese hulp vir hom as hy in aanhouding bly asook programme waar hy hulp kan kry vir sy dwelmverslawing. Oosthuizen het die oggend voor die hofverskyning per bus op Oudtshoorn vanaf Vanderbiljpark aangekom.
Jacobs en Weyers het aangedui dat hulle tik gebruik het die dag van hul verdwyning (Weyers) of enkele dae daarvoor (Jacobs) en dat dit hul denkvermoë ingeperk het.
• Die hof het tydens die paartjie se borgtogaansoek gehoor dat R395 000 in Jacobs se besit en R9 900 in Weyers se besit gevind is met hul inhegtenisname. Volgens die ondersoekbeampte, ao Christo Olivier, het hulle R8 000 gespandeer op diesel vir die voertuig, nuwe klere, ’n restaurantete en verblyf in ’n gastehuis.
Olivier het aangedui dat die verdagtes en die bakkie by die taxistaanplek in Knysna gevind is. Volgens hofstukke was die verdagtes op pad om met ’n taxi na die Oos-Kaap te reis waar Weyers se pa woon, terwyl die bakkie met die sleutel nog in die aansitter ook in die omgewing gevind is.
• Weyers het in haar borgaansoek gesê as borgtog aan haar toegestaan word, sal dit haar in staat stel om by haar twee kinders van vyf en nege jaar te gaan kuier.
Die kinders woon volgens haar as gevolg van finansiële omstandighede by hul pa’s in twee verskillende Wes-Kaapse dorpe.
Weyers het aangedui dat sy onskuldig gaan pleit op die aanklagte teen haar.
Sy het emosioneel voorgekom terwyl sy getuig het en sag geantwoord op vrae. Na afloop van haar getuienis het Jacobs haar getroos en het dit voorgekom of die twee saam bid. Hul het deurentyd hande vasgehou.
• Jacobs, wat tot voor die beweerde diefstal as gesondheid- en veiligheidsbestuurder vir Badenhorst Slaghuis gewerk het, het gesê hy het die Here weer in die tronk ontdek en wil voortaan sy lewe daaraan wy om mense na die Here te lei.
Weyers en Jacobs, wat weer op 7 November verskyn, se regshulpprokureur is Wynand Malan. Leonie van Rooyen is die staatsaanklaer.