Hersieningsaansoek terugverwys

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisverrigtinge in die saak teen ’n voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudts­hoorn, Johan Brits, kan nou in die Oudtshoorn Streekhof af­gehandel word na ’n beslissing in die Wes-Kaapse Hooggeregshof deur regterpres John Hhlope dat Brits se hersieningsaansoek terugverwys word.

Brits is deur streeklanddros Neels Cronje skuldig bevind aan 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte.

Adv Louis van Niekerk, senior advokaat in die kantoor van die direkteur van openbare vervolging en aanklaer in die saak, het streeklanddros Nortje op 29 Julie meegedeel dat Hlope op 12 Junie die besluit geneem het.

Brits het in sy hersieningsaansoek aangevoer dat die streekhof fouteer het in sy uitspraak deur ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toe te laat en toelaatbare of bevoegde getuienis te ignoreer.

Die staat het Brits se aansoek teengestaan en aangevoer dat hy wel ’n regverdige verhoor gekry het. Die staat het aangevoer dat die beskuldigde persoonlik die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid op hom geneem het om te verseker dat die “ale” aanvanklik in die geheim geproduseer word, sonder dat nuwe wynetikette ontwerp of aan­gekoop is. Die staat het ook aangevoer dat die direksie volgens getuienis nie ten volle ingelig is oor wanneer die vervaardiging van die “ale” sou begin nie.

Landdros Nortje het die saak in die streekhof op Mosselbaai tot 18 September in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel, wanneer ’n verdere versoek van die verdediging om teen die hooggeregshof se bevel te appelleer, aangehoor sal word.

Die staat staan die versoek teen en vra dat voortgegaan word met die finalisering van die vonnisverrigtinge.

Die landdros het aangedui dat vonnisverrigtinge kan voortgaan indien die verdediging nie op 18 September die hof kan oortuig vir ’n verdere uitstel vir die hantering van die hooggeregshofverrigtinge nie.

• Landdros Nortje het einde Julie na 49 jaar in Justisie uitgetree maar sal moet terugkom om hier­die saak sowel as ander deelsverhoorde sake te voltooi.