Grootvoël-saamtrek lok kragfietse van wyd en syd

Bo: Twee van die deelenemers aan die 400m wedren spring weg. Foto's: Hannes Visser

Die eerste De Grootvoël Rally wat die afgelope naweek deur die plaaslike motorfietsklub, Bikers Heart Riders, gereël is, het meer as 1 300 motorfietsryers en besoekers gelok.  Soos met talle ander byeenkomste was hierdie ook ’n welkome finansiële inspuiting vir die dorp.  Motorfietsryeres het van oor die hele land heen Oudtshoorn toe gekom. Volgens die organiseerder en president van die motorfietsklub, Alex van der Walt, het een motorfietsryer en sy vrou bykans 1 600 km al die pad van Mpumalanga af afgelê.

Motorfietsryers met wie Die Hoorn die afgelope naweek gesels het, was vol lof vir die puik organisasie van die saamtrek sowel as vir die terrein by Kango Bergoord.  Lede van die provinsiale – sowel as munisipale verkeersdepartement was die hele naweek op hulle poste om motorfietse vanaf die Bergoord e nook deur die dorp te begelei.

Van die waaghalsige ryers het Saterdagoggend gekyk hoe vining hulle 400m op die aanloopbaan van die lughawe kon aflê en daar is gepraat van snelhede van tussen 250k en 280km/u.

Volgens Van der Walt is hulle uiters tevrede met die naweek en daar word beslis volgerende jaar weer een gereël. “Ons mik volgende jaar vir 3 000 mense en gaan hierdie week e nook Saterdag in George tydens die presidentsvergadering van SWD-motorfietsklubs ’n terugskouing van die rally hou om te kyk wat het goed gewerk en wat moet verbeter.” Van der Walt spreek sy dank teenoor elke deelnemer, organisasie, toeskouer en inwoner uit wat bygedra het tot die naweek se sukses. (HANNES VISSER)

Bo: Daar was verskeie versamelaarsstukke, soos hierdie een, by die saamtrek.