Die Rotariërs se Beertjie-projek het vanjaar meer as 500 gebreide beertjies, poppe en diere opgelewer. Die afgelope maande het 35 vrouens hard gewerk om sagte speelgoed vir liefdadigheid te brei en te hekel. Verlede Vrydag het elke beertjie, pop en diertjie hulle weg gevind tot by die Rotariër Aftreeoord waar hulle getel is en gereed gemaak word vir aflewering.
Tydens Vrydag se geleentheid het Lezelma Pretorius wat aan die stuur van die projek staan, die vrouens wat aan die projek deelgeneem het, bedank. “Sommiges het volledige beertjies en diertjies gemaak en ander het gehelp deur gesiggies en finale afwerkings aan te bring of om dele aan mekaar vas te werk. Sonder elkeen van julle se bydrae sou hier nie nou rake vol speelgoed kon wees nie.”
Een van die vlytige werkers, Petro Terblanche, is 91 en het eiehandig 40 poppe gebrei en afgewerk. Die dame wat die meeste poppe gemaak het, is Doreen Coetzee wat ’n allemintige 76 poppe gemaak het. Dawn Klopper het 30 poppe gemaak.
Volgens Pretorius word die sagte speelgoed Donderdag en Vrydag aan kinders by kleuterskole in die gemeenskap oorhandig. Een van die kleuterskole wat besoek word is een waar die Rotariërs tans met opknappingswerk besig is.
Onderskrif: Die drie dames wat die meeste sagte speelgoed gebrei het is, van links: Petro Terblanche, Dawn Klopper en Doreen Coetzee. Tuussen hulle het hulle 161 poppe en diertjies gemaak.
‘n Rak vol gebreide diertjies wat Vrydag by die Rotariër-oord afgelewer is. (HANNES VISSER)