DIE Oudtshoorn munisipale raad het by ’n spesiale raadvergadering op 29 April besluit om ’n stuk grond in Bongolethu wat aan die munisipaliteit behoort en waarop die Xhosa Village voorheen geleë was, te vervreem en beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van ’n kommersiële kompleks, woonontwikkeling of ’n ontwikkeling deur die staat.
Volgens die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, sal so ’n ontwikkeling die dorp bevoordeel, omdat dit nuwe woonplek of werkgeleenthede sal skep, en ook ’n ekonomiese hupstoot vir die omgewing sal wees.
Die raad het by die vergadering ’n vorige besluit om die grond vir toerisme te gebruik, herroep. Die Xhosa Village, wat wel in ’n stadium toeriste na Bongolethu gelok het, is die afgelope jare verwaarloos, verniel en in 2020 afgebrand. Die raad het daarna besluit om die gebou op die terrein te sloop.
Die stuk grond, wat vir R950 000 gewaardeer word, word deur die raad beskou as grond met groot ontwikkelingspotensiaal.
Voorwaardes vir die ontwikkeling van die grond sluit in dat ’n aanbod vir die verkoop daarvan oorweeg sal word, maar dat kwessies soos swart ekonomiese bemagtiging (BBBEE-samestelling van die ontwikkelaar), werksgeleenthede wat geskep word en die maatskaplike bydrae van die ontwikkeling tot die gemeenskap ’n rol sal speel.
’n Openbare deelnameproses vir inwoners uit die omgewing sal ook plaasvind.