Jan Lotz Huis : Welstand kom byeen in dié geskiedkundige woning

Die ikoniese Lotz-huis in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Jan Lotz Huis in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn is reeds dekades lank ’n ikoniese en geskiedkundige gebou op die dorp wat vandag nog besoekers lok wat net wil kom loer of oom Jan se huis nog dieselfde lyk.

Sedert opknappings en restourasie aan die huis in 2019 voltooi is, is dit deesdae ook die tuiste van ’n handvol besighede wat op die gesondheid en welstand van Oudtshoorniete fokus. ’n Dokter wat op mediese estetika fokus, ’n ervare finansiële adviseur en ’n somatiese ervarings­praktisyn is onder die beroepslui wat kantore in die Jan Lotz Huis het.

Bella Women
Dr Deirdré Joubert is ’n geregistreerde mediese dokter met ’n aanvoeling vir mediese estetika. Sy is ook passievol oor dermatologie en welstand vir vroue.

Sy het die mediese graad MBChB in 2007 aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Sy het sedertdien talle kursusse in estetiese medisyne, insluitende advanced Botox®, voltooi. Dr Joubert het selfs ’n jaar aan die Allergen Mentorship-program vir gevorderde vullerprosedures deelgeneem.

Nadat sy in 2010 na Oudtshoorn verhuis het om in die algemene praktyk te werk, het sy in 2018 haar welstandskliniek, Bella Women, op die been gebring.

Dr Joubert vertel sy ag die verhouding tussen dokter en pasient as baie belangrik. Sy hou daarvan om meer tyd aan konsultasies te bestee om dié verhoudings te versterk.

Een van dr Joubert se gunsteling-behandelings wat sy by haar kliniek aanbied is, Platelet Rich Plasma-behandelings.

Jodi Mulder Financial Solutions
Jodi, wat van die Noord-Kaap af kom, sê sy voel al sedert die restourasieproses deel van die Jan Lotz Huis, omdat sy toe reeds haar kantoor daar gevestig het en betrokke was by die proses.

Haar geskiedenis in die finansiële wêreld het in Stellenbosch begin waar sy BCom Regte studeer het. Ná haar studies was sy agt jaar lank aan Old Mutual verbonde. Daarna het sy sowat 10 jaar lank die finansies van ’n privaat-onderneming bestuur.

Agt jaar gelede het sy by Louis Engels Finansiële Dienste aangesluit en ná vyf jaar, met Engels se aftrede, het sy die praktyk oorgeneem.

Jodi sê dit is haar passie om finansiële advies aan kliënte te verskaf. Sy adviseer onder meer oor boedelbeplanning, besigheidsversekering, aftreebeplanning, lewensversekering, beleggings en testamente.

Vir Jodi is die welvaart van haar kliënte die belangrikste, en sy geniet dit om seker te maak dat hierdie kliënte finansieel voorbereid is vir die toekoms.

Lieschen Lategan
Nog een van die formidabele vroue van die Lotz-huis is ’n geregistreerde sielkundige.

Lieschen het haar studies in Bloemfontein voltooi, en is reeds 31 jaar lank op Oudtshoorn. Sy het hierheen verhuis omdat haar eggenoot, wat sy op universiteit ontmoet het, ’n gebore Oudtshoorniet is, en soos dit met baie mense gebeur wat Oudtshoorn toe kom, het sy haar hart verloor op die Klein Karoo.

Haar passie vir die Oudtshoorn-gemeenskap, en om hierdie gemeenskap te dien, kom al jare lank saam met haar. Sy noem dit ’n voorreg om deel te wees van hierdie gemeenskap. Die ondersteuning van Oudtshoorniete en die wedersydse respek wat opgebou is met jare se saamwerk met kollegas en ander dokters, is vir haar ’n hoogtepunt van haar tyd hier.

Sy het sewe jaar lank in ’n baie spesifieke tipe traumabehandeling gespesialiseer om haar as ’n somatiese ervaringspraktisyn te bekwaam. Hiervoor het Lategan opleiding op internasionale vlak ontvang, en maak dit haar een van baie min praktisyns in Suid-Afrika wat gekwalifiseer is om hier­die behandeling aan te bied.

• Die restourasie aan die legendariese Jan Lotz se huis, en so ook die nuwe verbouings, het bygevoeg tot die uniekheid van die huis, met slegs plaaslike besighede wat betrokke was by die ontwikkeling. Besighede wat betrokke was, is Eben & Theo Barnard Elektries, Dawson Verkoeling, Johan Smit Argitekte, Makka Swart Konstruksie, Outeniqua Matte en Blindings, PG Glass Oudts­hoorn, Van Antwerp Sweiswerke en Timbercity.

Restourasie van die huis
Toe Die Hoorn in 2019 by mede-eienaar Hugo van der Berg gaan aanklop het om meer uit te vind oor die opknapping van die gebou het hy gesê die plan van aksie was om alles netjies en reg te maak en om nie aan die karakter van dié historiese huis te verander nie. Die oorspronklike, effens skewe deurkosyne, en die houthortjies voor die vensters is onder meer net so behou.

Volgens Van der Berg is daar ook slim planne gemaak om die oorspronklike voorkoms van die huis te koester.
Die unieke geelhoutplanke van die plafon wat geverf was, is net omgedraai sodat die hout weer sigbaar is. Selfs koperdeurknoppe soos wat in ou huise gevind is, is opgespoor.

In die proses is Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) geraadpleeg sodat hulle die eienaars van die gebou kon bystaan om die huis binne die voorskrifte van die Erfeniswet aangaande huise ouer as 60 jaar te kon restoureer.

Geskiedenis van die huis
Erf 428 in Koninginstraat op ­Oudtshoorn (van­dag erf 778) waarop die huis gebou is, se eerste eie­naars was JC Schoeman (gebore 1814) en die ander Schoemans, en die stief­kinders van CP Rademeyer.

Hilda Boshoff, kenner van Oudts­hoorn se geskiedenis, sê die huis is in die 1800’s waarskynlik deur JC Schoeman gebou.
Hy het Oudts­hoorn in Augustus 1875 verlaat en in September 1875 het die erf die eiendom geword van George Mason Edmeades, die oudste van vyf broers. Edmeades het byna die hele Oudtshoorn se erwe besit, maar alles verloor ná die eerste vere-ineenstorting. Hierna het die erf aan verskeie be­kende Oudtshoorniete behoort, onder andere die skatryk pro­ku­reur James Alexander Foster wat ook Foster’s Manor in Voortrekkerweg tussen 1905 tot 1916 besit het.

Met die restourasie-proses in 2019 van die oorspronklike Lotz-huis is benewens die opknapping van die oorspronklike geboue op die erf ’n afsonderlike gebou opgerig. Dié nuwe gebou word vandag saam met die opgeknapte huis as kantore verhuur aan vyf besighede, Bella Women, Jodi Mulder Financial Solutions, Lieschen Lategan, Medilusions en DLR.