Goue akademie-medalje vir Oudtshoorniet!

Dr Hannes de Lange en sy eggenoot Su­sann, met sy goue medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir natuurwetenskaplike prestasie.  Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
’N INWONER van Oudtshoorn, dr Hannes de Lange (79), is verlede week deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Goue Akademiemedalje vir natuurwetenskaplike prestasie bekroon.

De Lange se toekenning is by die bekroningsplegtigheid verlede Woensdag (11 September) in die Atterburyteater in Pretoria aan hom oorhandig.

Die Goue Akademiemedalje word driejaarliks toegeken vir verdienstelike werk op die gebied van die natuurwetenskap, die tegnologie of die geneeskunde.

De Lange is tans ’n kontraknavorser vir verskeie maatskappye. Sy loopbaan was daarop toegespits om probleme in veral die landboubedryf te ondersoek en op te los.

De Lange en sy vrou Susann, woon reeds 20 jaar op Oudtshoorn. Hy werk steeds.

Sy vroeë bydrae was die ontwikkeling van nuwe sitruskultivars, wat reeds die afgelope 50 jaar in die bedryf gebruik word.

Hy was ’n belangrike rolspeler in die ontwikkeling van die naartjie- oftewel die loss­kilsitrus-vertakking in die bedryf. Verder het hy deur ’n weefselkultuur-metode (groeipuntenting) bestaande kultivars van virusse gesuiwer.

Tydens sy loopbaan by die Nasionale Botaniese Instituut by Kirstenbosch het sy navorsing om die weefselkultuur van inheemse plante te bevorder, vrugte afgewerp. Hy was die eerste navorser ter wêreld wat kon aandui dat rook die ont-kieming van saad in die fynbosplante stimuleer. Dit het groot implikasies gehad vir die kweek van plante in die fynbosgebied en Mediterreense klimaatstreek. Baie spesies wat vroeër nie gekweek kon word nie, kon dus in die bedryf bekend gestel word. Tans word dié aspek in meer as 200 projekte wêreldwyd bestudeer.

De Lange se navorsing oor die taksonomie, groeibehoeftes, fermentasie en smaak van verskillende spesies heuningbos – met die samewerking van baie boere en akademici – het meegebring dat heuningbostee in die buiteland gewild geword het en dat boere tans 300 tot 600 ton per jaar uitvoer. Hy het ook besef dat die rooibosteebedryf op ’n baie nou genetiese variasie gebaseer is, en het onlangs groot projekte oor hierdie aangeleentheid begin onderneem.