Goed opgepaste veld herstel gouer

’N DROOGTE is nie noodwendig net sleg vir die natuurlike veld nie, sê Louis Jordaan, veldkenner en eienaar van die plaas Minwater langs die Paardebontpad suidwes van Oudtshoorn.

Dit verhinder dat plantegroei op plekke te dig raak deurdat gevestigde plante “terugvrek” as dit baie droog raak. Die plante snoei hulself dan as’t ware. “Dit is nie mooi as alles so droog lyk nie, maar dit is deel van ’n siklus.”

Volgens Jordaan is dit tans egter so droog op plekke dat selfs die Kanniedood begin vrek.
Hy sê soetdoringbome groei in die somer en dié bome wat nie naby water is nie, het begin blare afgooi. Baie saailinge, wat ’n paar seisoene vat om gevestig te raak, het met die huidige droogte ook begin vrek, het hy gesê.

Jordaan beklemtoon dat veld wat in ’n goeie toestand is wanneer dit droog raak, herstel relatief gou as dit weer begin reën. “Maar veld wat lank oorbewei is, kry baie swaar en herstel plante wat bewei word nie gou nie.”