Gemeenskap rou na tragiese verlies van 11-jarige Ivory

Ivory Josephs. Foto: Facebook

Die gemeenskap van Oudtshoorn is in rou na die afsterwe van Ivory Josephs, ’n 11-jarige Graad 5-leerder van Colridge Primêre Skool. Saterdag 29 November is Ivory op die hoek by Toekoms-rus VGK Môreson deur ’n voertuig getref en het op die ongelukstoneel gesterf.

Ivory is beskryf as ’n saggeaarde en lewenslustige kind wat ander met haar glimlag en vriendelikheid aangeraak het. Volgens die gemeenskap sal haar voetspore in die harte van haar familie, vriende en skoolmaats vir altyd onthou word.

“Ivory, die gordyn het toegemaak op jou aardse lewe, maar het oopgegaan op die hemelse verhoog waar die ewige lewe vir jou begin,” het die skoolhoof, PJ Adams, gesê. “Jou sitplek is leeg, jou stem sal ons nie meer hoor nie, maar die mooi herinneringe sal verewig in ons harte bly.”

Ivory se akademiese prestasie was ook merkwaardig. Sy is suksesvol bevorder na Graad 6 en het in alles volhard wat sy begin het.

Die skool het vanaf Dinsdag 2 Desember daagliks om 08:00 ’n kersie aangesteek en ’n oomblik van stilte gehou ter nagedagtenis van Ivory. Die Suid-Afrikaanse vlag het ook gedurende die week halfmas gehang by die skool.

Die roudiens het Donderdagoggend 4 Desember by haar familie se huis in Bridgton plaasgevind. Ter ondersteuning van die familie het die Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) ook Donderdag ’n kranslegging gehou in Petunia laan, Toekomsrus, regoor VGK Môreson, waar die ongeluk plaasgevind het. OCAC het ook beloof om die saak op te volg om geregtigheid te verseker.

Volgens lt. kol. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, is ’n saak van strafbare manslag geopen deur die Oudtshoorn SAPD na die voorval. Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur. Hy het in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn, waar die saak uitgestel is vir verdere ondersoek.

Gemeenskapslede en familie neem nou tyd om haar lewe te herdenk. Haar spontane lag en liefdevolle gees sal altyd deur haar familie ont-hou word. “Ons gaan jou baie mis. Ons is dankbaar vir die mooi oomblikke wat ons saam met jou kon deel en sal jou nooit vergeet nie,” het Adams gesê. (MALISSA SPIES)