Abrie de Vries saam met Sune Rupping, voormalige president van die Oudtshoorn Rotariërs, toe hy in 2017 deur die organisasie vereer is vir sy bydrae tot gholf.
Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
EEN van Oudtshoorn se bekendste inwoners en sportmanne, oom Abrie de Vries, is Sondagnag in sy slaap in die geseënde ouderdom van 93 jaar oorlede.
Sy vrou, Elma is verlede jaar oorlede.
De Vries se prestasies op die gholfbaan is legendaries.
Hy het tot op die ouderdom van 90 jaar sy ouderdom op die gholfbaan geklop deur ’n bruto-telling van minder as 90 houe aan te teken.
Sy voorgee het 40 jaar lank gewissel tussen 2 en 6. Min gholfspelers ter wêreld val in hierdie klas. Hy is dan ook heel tereg in 2017 deur die Oudtshoorn Rotariërs vereer vir sy prestasies op die gholfbaan.
De Vries was vir baie jare ’n boer in die Willowmore-distrik. Daarna het hy en sy vrou, Elma, na Oudtshoorn verhuis waar hulle van die eerste inwoners van die Oudtshoorn Aftreooord was.
De Vries was ook die stigter van die Kanniedode, ’n groep senior gholfspelers van Oudtshoorn wat elke Maandagoggend aantree vir ’n ronde gholf. Op Maandagaand, 5 Desember 2016, tydens die Kanniedode se jaareindgeselligheid by die Oudtshoorn Gholfklub, het hy aangekondig dat hy sy gholfstokke ná 62 jaar gaan neerlê.
“Vandag was my laaste ronde,” het ’n bewoë De Vries gesê.
De Vries was nie net ’n goeie gholfspeler nie, maar ook ’n gewilde vriend en mens wat oral respek afgedwing het.
Hy word oorleef deur drie kinders, Cecile Loubser van Oudtshoorn, Garetha Strydom en Anler de Vries, nege kleinkinders asook agt agterkleinkinders.
Sy begrafnisdiens vind Woensdag, 14 Augustus, om 14:30 in die NG Gemeente Park op Oudtshoorn plaas.