Geldkissie en skootrekenaar oornag by Jemima’s gesteel

Beeldmateriaal van die man wat Son­dagog­gend ’n skoot­re­ke­naar en geldkissie by Jemi­ma’s ge­steel het.

Deur Angelique Erasmus
JEMIMA’S Restaurant, Oudtshoorn het Sondag­oggend omstreeks 01:33 onder ’n inbraak deur­geloop toe ’n man oor ’n hout-buitedeur geklim, ’n veiligheids­hek oopgebuig en ’n kantoordeur oopgeskop het.

Op kringtelevisie kan gesien word hoe ’n man ’n geldkissie met kontant en skootrekenaar steel en daarmee laat spaander.

Volgens Pierre Malherbe, eienaar van Jemima’s, het sy vrou, Debbie, Sondag onraad vermoed toe sy binne die kantoor drade op die vloer gesien lê het. Hulle het dadelik die polisie ontbied.

Malherbe sê die skade van die inbraak is sowat R30 000.

Hy bied ’n kontant-beloning aan vir inligting wat daartoe kan lei dat sy eiendom teruggevind word. “Die data wat ek verloor het, is vir my veel meer werd as die items wat gesteel is,” sê hy.

Enige persoon wat dalk die man herken, kan die Oudtshoorn Polisie skakel by 044 203 9000.