Geen waarheid oor dié swart motor

Deur Liesel le Roux
’N BEWERING oor ’n gepoogde ontvoe­ring wat verlede week op sosiale media in Oudtshoorn die ronde gedoen het, is fopnuus en onwaar.

Volgens kapt Louis Visser, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, het die Polisie die bewe-ring opgevolg nadat ’n inskrywing verlede Donderdag op ’n Facebook-groep, Oudtshoorniete staan saam, geplaas is. Daar is in die plasing be­weer dat

’n swart motor met ’n geel nommerplaat by so ’n gepoogde ontvoering op Oudtshoorn betrokke was.
Visser sê die polisie het Vrydag na deeglike ondervraging van ’n betrokkene vasgestel dat daar glad nie so ’n insident plaasgevind nie.

Intussen het die SAPD ook mense gevra om bedag daarop te wees dat baie vals nuus oor kinder­ont­voerings tans op sosiale media versprei word. Volgens ’n persverklaring wat uitgereik is, is geen enkele klag by die Polisie ingedien oor verskeie videos van beweerde ontvoerings van kinders in die Wes-Kaap nie, en wil dit voorkom of die videos vals is. “’n Mens sou ook verwag dat, behalwe om so ’n ontvoering by die Polisie aan te meld, familielede na vore sou kom om dié gerugte te bevestig,” lui die persverkla­ring.