
Deur Garnett Wicomb
Die gemeente van die Amalienstein Luherse Kerk vier hierdie naweek die kerk se 165ste bestaansjaar met groot feestelikheid.
Volgens Pastor Ruth Adams, begin die feesvieringe Vrydagaand met die aankoms van gaste van heinde en ver en ’n aand van kameraadskap (fellowship).
Saterdag se verrigtinge begin om 08:00 met ’n optog vanaf die kerk met trompopppies gelei deur die jeugbrigadeorkes van die Oudtshoorn Lutherse Kerk tot by die Zoar Sportstadion waar die fees en basaar om 10:00 begin.
Die dag word afgesluit met ’n musiekfees in die Ladismith Sekondêre skool met verskeie kore , blaasorkeste van Oudtshoorn en Amalienstein asook die Oudtshoorn jeugbrigade-orkes.
Sondag se verrigtinge begin met ’n optog vanaf die Maxi’s-saal in Zoar tot by die kerk vir ’n kranslegging- en voorafseremonie om 09:00 met die Jubilate-feesdiens met kore en orkeste om 09:30. Middagete word na die diens aangebied.
• Die SA Sendinggenootskap (SASG) het in 1817 grond in die Ladismith-distrik verkry vir ’n sendingstasie te Zoar en in 1838 het die Berlynse Sendinggenootskap ’n ooreenkoms met SASG gesluit waarvolgens hulle vir die geestelike bearbeiding van die mense van Zoar verantwoordelik sou wees vir vyf jaar.
Die sendeling Friedrich Prietsch het in 1853 op die plaas Ylandsfontein ’n kerk gebou wat voortaan as Amalienstein bekend sou staan uit erkentlikheid teenoor Amalie von Stein van Berlyn uit wie se nalatenskap geld vir die koop van die grond beskikbaar gestel is.
80 militêre vrywilligers uit die Amalienstein en Zoar-gemeenskappe wat gehelp het om die Katriver Rebellie (1850 – 1851) aan die oosgrens te onderdruk het ook mildelik uit hul soldy bygedra om die oprigting van die kerk moontlik te maak.
Amalienstein het in 1856 ’n selfstandige Berlynse sendingstasie geword.
Die sendeling August Schmidt is in 1856 op Amalienstein aangestel waar hy vir 40 jaar lank met groot vrug gewerk het.