Geen berg te hoog vir Braam

Braam Wannenburg het onlangs met sy bergfiets en avontuurlus fondse ingesamel vir bedreigde diere. Hier is hy by een van die jagluiperds van die Cango Wildlife Ranch. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
EVERESTING is die woord wat gebruik word om dit te beskryf wat Braam Wannenburg van Oudtshoorn twee keer gedoen het. Natuurlik met die hulp van sy bergfiets en die Swartbergpas.

Daar is volgens die webtuiste www.everesting.cc drie hoofvereistes vir “Everesting’: Klim die hoogte van Everest wat 8 848 m hoog is. Klim een berg, enige plek in die wêreld. Gebruik een aktiwiteit, byvoorbeeld fietsry. Daar is geen tydlimiet nie, maar terselfdertyd word geen slaaptyd toegelaat nie.

Braam het in Maart vanjaar die tweede keer ge-Everest toe hy die Swartbergpas herhaaldelik uitgery het om fondse in te samel vir die bewaring van bedreigde spesies. Hy het die R8 898 wat ingesamel is aan die Wildlife Ranch geskenk.

Sy eerste suksesvolle poging om die prestasie te behaal was in 2018 toe hy ook die Swartbergpas herhaaldelik uitgery het ter herinnering aan sy vriend en medefietsryer Louis Lategan wat in ’n motorbotsing gesterf het.

Omdat hy dié “Everest’ al twee keer kon oorkom, is sy naam nou in die “Everesting Hall of Fame” opgeneem.

Braam sê sy liefde vir fietsry het in 2016 vlam gevat, maar dat hy eers verlede jaar lang afstande begin aanpak het en van die konsep te hore gekom het.

“Ek wou al voor Louis se ongeluk ’n Everesting-poging aanpak,” sê hy.

“Wanneer dinge in my lewe begin byt en alles moeilik raak, gee ek ui­ting aan die gevoelens deur vir myself ’n uitdaging te stel en dit met alles in my aan te pak. Die feit dat dit in die natuur plaasvind, is natuurlik ’n bonus.”

Hy sê daar wink beslis ’n derde Everesting-poging, maar hy wil nie nou al die aap uit die mou laat nie.
“Wees verseker, ek kies die keer ’n ander berg, moontlik met groter uitdagings as die vorige een,” voeg hy by.

Op ’n vraag of dié uitdaging moeiliker raak as jy dit weer doen, ant-woord hy dat dit emosioneel maklik- er raak, omdat jy jou gevoelens al ken en weet hoe om dit te hanteer, maar dat dit geestelik ’n uitdaging is omdat jy ook weet wat voorlê.

“Ek glo dat ek elke keer meer ervaring opdoen, en dit dra my elke keer deur die moeilike tye.”

Dis duidelik dat hy sy passie uitleef, en dit vier met ’n nuwe tatoe op sy arm: Die buitelyne van ’n berg met die woorde No mountain too high.