DIE verwoestende brand wat verlede week groot skade in Gamkaskloof (Die Hel) veroorsaak het, is Sondag geblus. Die brand het Maandag ontstaan en ’n week lank verwoesting gesaai. Die oorsaak van die brand is steeds onbekend.
Marinette Joubert, bestuurder van Die Fontein Gasteplaas in Gamkaskloof, het Dinsdag gesê die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.
“Die assessor sal eers aan die einde van die week kom om na die skade te kyk. My man het reeds begin om waterpype te herstel, en ons kan reeds een van ons gastehuisies verhuur,” sê sy.
Nog twee huisies behoort teen 1 Januarie herstel te wees, terwyl vyf kampeerplekke met ’n ablusieblok en ’n vierde huisie wat in die brand beskadig is, teen Maart 2020 herstel te wees.
“Ons beoog om ook nuwe bome en vetplante om die huisies te plant, sodat gaste nie net in die gebrande dele hoef vas te kyk nie, en ook so te help om die area te help herstel,” sê Joubert.
Volgens Loren Pavitt, woordvoerder van CapeNature, is die Swartbergpas na Gamkaskloof pas steeds vir die publiek gesluit.
“Alhoewel die brand geblus is, is die gebied nog nie veilig verklaar nie,” sê sy.
Deur Angelique Erasmus