Everest nog altyd op Louis se ‘bucket list’

Louis Fourie van Oudtshoorn by Everest se basiskamp, 5 364 meter bo seespieël.                                                       Foto verskaf

Louis Fourie van Oudtshoorn by Everest se basiskamp, 5 364 meter bo seespieël. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
HY het nog altyd ’n bewondering gehad vir die Himalajas en Everest, vertel  Louis Fourie, eienaar van die PNA op Oudtshoorn, wat onlangs dié ikoniese bergreeks eerstehands kon ervaar toe hy van Lukla in Nepal tot by Everest se basiskamp en terug gestap het.

Fourie sê Everest was nog altyd op sy “bucket list”, maar dat hy besef het hy is nie meer jonk genoeg om die bergpiek aan te pak nie. Verlede jaar het hy en twee vriende van hom van Gauteng besluit om eerder ’n sirkelroete na Everest se basiskamp te stap.

Dit het hom nege dae geneem om van Lukla wat sowat 2 860 m bo seespieël is tot by die basiskamp  wat 5 364 m bo seespieël is te stap, en drie dae lank om terug te keer.

Sy vriende moes egter as gevolg van hoogtesiekte tou opgooi.

Hy was gelukkig om nie siek te word nie, vertel Fourie, aangesien hoogtesiekte of griep weens die erge koue baie mense siek maak en hulle verhinder om die roete te voltooi.

Volgens Fourie was dit veral snags baie koud en ook wanneer die wind bedags gewaai het.

“Dit was so koud dat ek party dae tot ses lae klere oor mekaar gedra het!” vertel hy.

Van bad en warm water was daar  nie sprake nie.

“’n Mens oornag in ’n basiese backpackers met slaapplek en ’n plek om te eet, maar daar is geen badgeriewe nie. As jy warm water wil hê, moet jy dit koop. ’n Mens maak jouself maar skoon met wet wipes!”

En ja, die staptog het aan al sy verwagtinge voldoen. “Dit was verskriklik mooi gewees,” som hy sy ervaring op.