So lyk dit by die gevandaliseerde boorgat. Foto’s verskaf
DIE beheerstasie by ’n boorgat wat water aan Dysselsdorp verskaf, is die afgelope week besteel en erg gevandaliseer. Dit mag tot watertekorte in Dysselsdorp lei.
Die beheerstasie maak deel uit van die Klein Karoo Landelike Watervoor-sieningskema (KKLWVS).
Dit is naby ’n nuwe boorgat geleë wat binne die volgende twee weke toegerus sal word.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is al die panele en die meeste telemetriese koppelings tydens die vandalisering erg beskadig.
“Panele en skakelaars is totaal verwoes en sal dringend deur spesialiste oorgebou moet word,” het hy gesê.
Volgens Mangqwengqwe is van die grootste skade aangerig toe die kwaaddoeners die muur aan die agterkant van die beheerstasie oopgekap het.