‘Ek is lief vir hom en wil dit graag wys’

Links: Die tatoe wat Chrislynn van Zyl op haar pols aangebring het ter herinnering aan haar broer, Jolin van Zyl (15) wat verlede week oorlede is. Foto: Facebook

Links: Die tatoe wat Chrislynn van Zyl op haar pols aangebring het ter herinnering aan haar broer, Jolin van Zyl (15) wat verlede week oorlede is. Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
ELKE lid van hul gesin gaan ’n tatoe kry waarmee hulle Jolin elke dag sal kan onthou, sê Chris van Zyl.

Chris en Hester van Zyl van Mosselbaai se seun Jolin (15), ’n graad 9-leer­der van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, is verlede Dinsdagaand (15 Augustus) in die George Hospitaal aan dubbele longontsteking oor­lede.

Volgens sy pa het Jolin gesterf toe sy hart onder narkose gaan staan het.

Chris sê Jolin het die Maandag baie siek geword. Hy is aanvanklik in die Mosselbaai Hospitaal behandel voordat hy oorgeplaas is na George.

Jolin se suster, Chrislynn, was ver­lede week die eerste een wat die tatoe op haar arm laat aanbring het.

Chris sê egter hulle ander gaan ook volg.

“Ek is lief vir hom en trots op hom en wil dit graag wys,” het Chris gesê,

Personeel en leerders van Langenhoven Gimnasium het met groot hartseer op sy dood gereageer. Stephanus Potgieter, hoof van Langenhoven Gimnasium, sê Jolin was die voorafgaande Vrydag nog in die skool. Hy was sedert Mei ’n leerder van die skool. “Dit is baie tragies. Die skool gaan Jolin mis,” het Potgieter gesê.

Talle mense het op Die Hoorn se Facebook-blad vertroostende boodskappe vir die familie geskryf en vertel hoe hulle Jolin onthou.

“Hy was ’n pragtige seun! My meisiekind vat dit swaar, hulle was pelle. Hy sal baie gemis word,” lui een van die inskrywings.

Maggi Kruger, ’n ouma van Jolin, het hom op Facebook as spesiaal en liefdevol en dierbaar beskryf en gesê sy is gebroke.

Tishrei Ross, skryf dat Jolin die beste vriend was wat sy nog gehad het. “Jy was die eerste ou wat my hart gesteel het en daar sal altyd ’n deel van hom wees met jou naam op.”

’n Roudiens vir Jolin is die afgelope Saterdag in die AGS Kerk in Mosselbaai gehou. Hy sal op 4 September veras word.

• Nog ’n tiener van Oudtshoorn is die naweek dood. Die polisie is tans besig met ’n geregtelike ondersoek na die dood van Lee Bruintjies (14) van Rose Valley.