‘Ek is God se witbroodjie’

DIT is ’n koue Lentedag toe Die Hoorn die huis van die president van Icosa, Jeffrey Donson, in Ladismith betree, maar die hartlikheid van die ontvangs verdryf vinnig die koue.

Die netjies geklede oud-burgemeester kom in die gang afgestap en groet met een van sy kwinkslae: “Welkom, Deon, of het jy ook gedink ek het vir Petrus gaan kuier?”

Donson vertel dat sy dogter, Jeflin-Gail, op ’n dag toe hy sowat drie weke gelede by die huis kom, opgemerk het dat hy onvas op sy voete voorkom en al op die rand van die tuinpaadjie geloop het. Sy het hom die huis ingehelp.
Sy vrou, Abigail, vertel hy was doodsbleek en dat sy tong uitgehang het. Hulle het dadelik die ambulans ontbied en dit het gelukkig gou opgedaag.

Donson vertel self hoe dankbaar hy teenoor die paramedici, Mario Grispe en sy kollega Johndry, is, omdat hy gedink het hy gaan sterf. Hy is na die plaaslike hospitaal geneem en praat met lof van die hospitaalperso­neel. ’n Uur later is hy na die hoësorgeenheid van die Mediclinic George oorgeplaas waar hy vir Covid-19 behandel is.

Hy is verlede Woensdag (26 Augustus) uit dié hospitaal ontslaan.

Hy vertel voorts dat sy geloof ’n groot rol tydens sy siekte gespeel het. “Ek het baie met God gepraat en ont-hou hoe ek grootgemaak is.”

Hy het sy dank uitgespreek teenoor die hele Kannaland-gemeenskap wat vir hom boodskappe via die radio ge­stuur en vir hom gebid het.

Hy gebruik nog ’n verwysing na die Bybel: “Dieselfde God wat vir Lasarus opgewek het, het vir Jeffrey Donson ’n tweede kans gegee; daarom sê ek ek is God se witbroodjie.”

Donson is duidelik weer reg vir sy politieke rol en sê hy is ook op die oorlogspad. Daar is Icosa-lede wat vasgevat moet word, sê hy. “Diegene wat nie lojaal is aan die party se beginsels nie, moet verantwoording doen.” (Deur Deon Meyer)