Bring jou springmielies vir dié inryflieks!

TIENERS tot ou tannies, suigelinge tot silwergrys ballies, mammas en pappas – almal was altyd mal oor die inry! Jy pak ’n kosmandjie, gryp ’n kom­bers en klim in die kar, want dis tyd om sommer in jou voertuig te gaan fliek op ’n grootskerm.

En nou is dit weer terug, te danke aan die 2020 Garden Route International Film Festival (GRIFF) wat vanaf 21 September tot 11 Oktober plaasvind.
GRIFF se spyskaart van vollengte speelfilms, dokumentêre films en kortfilms is op 20 Augustus bekend gestel – ’n versameling nuwe plaaslike en internasionale films wat virtueel, weens Covid-regulasies, en by inryteaters regoor die Tuinroete te sien sal wees.

90 films in verskillende genres sal te sien wees – tradisionele dramas, misdaad, komedie, rillers, politiek- en sosiaal-bewuste films uit ’n verskeidenheid lande.

Inwoners van die Klein Karoo sal ook inry toe kan gaan op drie van die streek se dorpe.

Ladismith is eerste aan die beurt met ’n inry-teater by Ladismith Hoërskool en die flieks Ander Mens en Healer op 27 September, en Knuckle City en Flatland op die 28ste.

Calitzdorpers kom op 29 September aan die beurt met hul inryteater by Calitzdorp Hoërskool en die tekenprent Khumba (in Afrikaans) en Kampeerterrein, Die Movie. Somerkersfees en Hollywood in my huis word op die 30ste vertoon.

In Oudtshoorn sal Laerskool Wesbank se sport­veld die inryteater huisves. Five Fingers for Marseilles en Skemerson word op 1 Oktober gewys, terwyl Flatland en Hollywood in my huis op die 2de gaan speel.

Die films word in 16 x 9-formaat op ’n skerm van 5 m x 3 m vertoon, met die klank via FM-oordrag deur die motorradio, benewens surround sound-luidsprekers by die inryteaters.

Kaartjies kos R220 vir twee rolprente in ’n ­voertuig met tot twee passasiers; R250 vir twee rolprente in ’n voertuig met tot drie passasiers; en R70 per addisionele passasier.

Die hekke vir alle inry-teaters maak stiptelik om 19:00 oop en sluit om 20:00. Geen toegang sal daarna moontlik wees nie.

Kaartjies is reeds beskikbaar by Webtickets, en sal nie by die hekke verkoop word nie. Besoek die @GRIFFfilmfest Facebook-blad vir die nuutste inligting. (Deur Stefan Skapie Goosen)