Eerste Afrikaanse Group Chat-komedie van Maandag te sien

DIE KKNK bied van Maandag 13 Desember tot 19 Desember nóg ’n digitale eerste aan. Die keer kan jy ’n komedie oor ’n tydperk van sewe dae op jou rekenaar of slimfoon volg.

Koeël deur die kerk is ’n komedie wat die konsep van ’n familie-geselsgroep op ’n selfoon gebruik om ’n storie oor te dra.

Dié familiedrama speel oor ’n tydperk van sewe dae af. “Kykers het die geleentheid om ’n vlieg teen die muur van ’n familiegroepie te wees voor en na afloop van ’n troue, met teksboodskappe, stemnotas, videos, memes, emojis en meer,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Volg al die aksie van dié familiegroep gratis op ’n webgebaseerde app op jou rekenaar of slimfoon. Gaan na kknk.co.za waar jy die stappe volg om te registreer en dié komedie vanaf 09:00 Maandag kan volg. Volg die karakters vir ’n week soos hulle kommunikeer tydens hul reise na en ervarings by die groot trou-week van Ben Oppelt en Jani de Wet.

Llandi Beeslaar het die storielyn geskep en behartig die regie van hierdie familiedrama, met Eldon van der Merwe (Ben, die bruidegom), Greteli Fincham (Jani, die bruid), Esther von Waltsleben (Chrissy, ma van die bruid en eksvrou van Christiaan), Melt Sieberhagen (Christiaan, die pa van die bruid), Ira Blankenberg (Belinda, Chris-tiaan se nuwe vrou), Lee-Ann van Rooi (Deborah, ma van die bruidegom), Charlton George (David, pa van die bruidegom), Cole Wessels (Joey, broer van die bruidegom), June van Merch (Verney, ouma van die bruidegom), Elandré Schwartz (strooijonker) en Lara Hattingh (sussie van die bruid).