Droogte: Lied opgedra aan boere

Corlea Botha in aksie tydens ’n vorige Klassieke Kersfees by die Paarl.

Deur Schalk le Roux
DIE sangers Corlea Botha en Kevin Leo het saam met die dirigent Paul Loeb van Zuilenberg spesiaal ’n lied verwerk wat hulle Saterdagaand, 8 Desember, by Klassieke Klein Karoo Kersfees gaan sing en opdra aan al die boere van die Klein Karoo as teken van hul ondersteuning en mee-gevoel met die knellende droogte.

Só sê Gerhard Meyer, eienaar van die granaatplaas Celebratio waar die konsert gaan plaas-vind. Die plaas is langs die sementpad sowat 26km van Oudtshoorn op pad na Calitzdorp.

Benewens die lied vir die boere, waarvan die titel as verrassing gehou word, is al die ander liedere wat Corlea en Kevin gaan sing ook spesiaal vir hul stemme verwerk.

Die lede van die orkes wat onder leiding van Van Zuilenberg gaan optree, kom van Bloemfontein, George en Kaapstad. Corlea en Kevin kom reeds die dag voor die konsert van Johannesburg af om die aand voor die konsert saam met die orkes en koor in te oefen.

Meyer gee die versekering die gehalte van die klanktoerusting wat die aand gebruik gaan word, is van die hoogste gehalte.
Dit is ’n HK Cohindra Line Array-stelsel van 35 kW wat deur Meyer ingevoer is en uitsluitlik vir professionele konserte gebruik word. Die stelsel, sover bekend die enigste van sy soort in die land, is al gebruik vir konserte van Demis Roussos, Smokie, Dana Winner, BZN en ver­skeie ander internasionale kunstenaars tydens hul toere in Suid-Afrika.

Vier klank-en-beligtingsingenieurs en tien helpers gaan toesien dat alles glad verloop.

Volgens Meyer het hy ook aansienlike koste aangegaan om die elektriese installasie op Cele-bratio op te gradeer en uit te brei om die klank- en beligtingstelsel op die plaas te kan hanteer.

Die verhoog van 80 vk meter wat in aanbou is, is ’n permanente struktuur met ’n dak wat opgerig word om ook voorsiening te maak vir toekoms­tige vertonings wat beplan word.

Meyer het hard gewerk om die terrein van 2000vkm voor Celebratio se pakstoor vir die konsert voor te berei. Daar is plek vir sowat 1000 stoele. Die terrein, met ’n pragtige uitsig oor die granaatboorde en berge, is gelyk gemaak met grondverskuiwingsmasjinerie en met saagsels bedek. Besproeiing is ook al geïnstal-leer sodat ’n grasperk gevestig kan word sodra daar weer genoeg water in die Klein Karoo is.

Drie parkeerterreine vir sowat 400 voertuie is ingerig en met saagsels bedek vir die stof. Daar is ook 150 kareebome aangeplant. ’n Span van 36 mense gaan die aand se logistiek hanteer.

Elke parkeerterrein het ’n brandblusser.

Die kos- en drankverskaffers wat hul produkte die aand te koop gaan aanbied, is onder meer Calitzdorp Wynkelders, Gründheim, Liquorland, Karooboom, Nostalgie en Bella Cibo.

Die spyseniering vir die VIP-gaste word gedoen deur Nostalgie en Bella Cibo.

• Kaartjies vir Klassieke Klein Karoo Kersfees is te koop by PostNet Oudtshoorn, in die Queen’s Mall.