Deur Angelique Erasmus
DRIE werknemers van die Oudtshoorn Munisipaliteit is verlede Donderdag in Dysselsdorp in hegtenis geneem vir die besit van moontlike gesteelde goedere.
Die werknemers, wat in Dysselsdorp was vir werk, was in die besit van 100 m-koperkabel.
Hulle is deur die Dysselsdorp Polisie in hegtenis geneem en het verlede Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Die drie werknemers is op eie verantwoordelikheid vrygelaat en sal weer op 15 Augustus voorkom.
Volgens ao Fred Snyman, ’n speurder van die Dysselsdorp Polisie, het hulle op die drie verdagtes afgekom waar hulle besig was om die koperkabels skoon te maak.
Daar word vermoed dat dit oorblywende kabels was wat van ’n vragmotor afgegooi is, en dat die werkers vermoedelik later teruggekeer het om dit skoon te maak.
Die betrokkenheid van ’n moontlike vierde verdagte word ook ondersoek, maar is hy is nog nie in hegtenis geneem nie.
Die naam van die drie beskuldigdes is aan Die Hoorn bekend, maar hulle name word voorlopig teruggehou.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die munisipaliteit is bewus van die drie werknemers wat deur die polisie in hegtenis geneem is en dat die voorval in ’n ernstige lig beskou word.
“Ons het reeds met ’n interne tugproses begin,” het hy gesê.