Dooie visse in rivier wek kommer

So het die Olifantsrivier in die Bakenskraal-omgewing gister (Donderdag, 17 Maart) gelyk, vol dooie visse. Foto: verskaf

GROOT hoeveelhede dooie visse in die Olifantsrivier is waarskynlik die gevolg van gedeeltelik behandelde riool wat in die water beland het.

Volgens bekommerde inwoners van die Bakenskraal-omgewing buite Oudtshoorn het hordes dooie visse gister (Donderdag, 17 Maart) in die Olifantsrivier begin dryf.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder: teg­nie­se dienste by die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die dooie visse moontlik ‘n gevolg van probleme by die Oudtshoorn Rioolplaas.

Swart sê een van die skroefpompe wat gebruik word tydens die rioolbehandelingsproses het op 3 Maart gebreek. “Ons mobiele pompe kon nie al die inkomende riool weggepomp kry nie, en van die riool is deur ons oksidasiedamme herlei. Ongelukkig het daar gedeeltelik behandelde riool in die rivier beland, wat waarskynlik aanleiding gegee het tot die visvrektes. Die riool wat in die rivier beland, onttrek die suurstof uit die water wat dan lei tot die visse wat vrek.”

‘n Noodpomp is intussen geïnstalleer en die proses is sedert die naweek weer normaal.

Volgens Swart is die voorval dadelik by die Departement Water en Sanitasie (DWS) aangemeld en word dit deur die Munisipaliteit se omgewingsafdeling en DWS gemoniteer.

“Aanvaar asseblief ons verskoning vir enige ongerief wat ondervind word. Daar word hard gewerk aan pogings om herhalings van dié aard in die toekoms te voorkom,” sê Swart. (Deur Stefan Skapie Goosen)