Deur Garnett Wicomb
’N DOKTER van die Paarl wat tot 14 jaar tronkstraf vir verkragting en twee klagtes van seksuele aanranding skuldig bevind is, se aansoek om teen sy skuldigbevinding te appelleer was suksesvol in die Kaapse Hooggeregshof.
Die dokter, Danzil King (37) het in 2016 vir sy gemeenskapsjaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn gewerk.
Streeklanddros Daniel Boks het in Mei vanjaar met vonnisoplegging van King gesê dat hy sy vertrouensposisie as mediese dokter misbruik het en hom aan ernstige misdrywe skuldig gemaak het.
Sy getuienis is deur Boks as vals en leuenagtig verwerp terwyl sy slagoffers, twee 21-jarige vroulike rekrute, nie enige motiewe gehad het om hom vals te beskuldig nie.
Die twee vroue het mekaar nie geken nie.
Die voorvalle het in April 2016 in die siekeboeg van die Infanterieskool plaasgevind toe die twee vroue die beskuldigde vir onderskeidelik ’n liesbesering en ’n oorinfeksie besoek het.
Hy het hulle in beide gevalle gevra om te ontklee om sy ondersoeke te doen.
Volgens King se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, is die saak vir argumente op die hofrol van die Oudtshoorn Streekhof vir 29 Oktober geplaas.