DIT is die tyd van die jaar wanneer die gesegde “Daar’s ’n slang in die gras” ’n letterlike betekenis kry…
Maar byt vas, Oudtshoorn het mos sy eie slangvanger, wat enige seilende reptiel maklik kan oppik en na ’n veilige plekkie, of “tuin van eden” van sy eie kan neem.
Volgens dié slangkenner en -vanger, Mornay Thysse van die Oudtshoorn Brandweer, raak dit nou weer tyd vir slange om kop uit te steek.
“Slangseisoen in ons streek begin sodra ons somer begin, maar dit hang ook baie keer af van die weersomstandighede. Dié somer gaan dit woes wees met al die slange, maar ek sien uit daarna.”
In die Klein Karoo is Mornay se naam al jare lank sinoniem met slange vang en verskuif – hy doen dit al immers 21 jaar lank; boonop sonder om ooit self gepik te word.
Hy vertel hy het vorige seisoene van skadelose bruinhuisslange en eiervreters tot giftige Kaapse kobras, pofadders en boomslange uit en om huise in Oudtshoorn verwyder. Die laaste drie is volgens hom die giftigste slange in die Klein Karoo.
In die eerste twee weke van Oktober (gaan loer gerus na Mornay se Facebook-blad: Klein Karoo Snakes) het hy ’n gewone eiervreter (common egg-eater) by ’n huis in Victoriastraat, en ’n bruinhuisslang in Jonkerstraat verwyder. Vrydag (23 Oktober) het hy ’n Kaapse kobra binne-in ’n woonhuis in Buffelsdrift buite Oudtshoorn gevang.
En toe raak dit besig.
Maandag (26 Oktober) het hy twee Kaapse kobras – een uit ’n boom by ’n huis in Parkweg, en een uit ’n motorhuis in Palmoord in Pauline Smithstraat gevang, en Dinsdag (27 Oktober) nog ’n Kaapse kobra uit ’n boom naby ’n tent by Buffelsdrift Game Lodge.
“Omdat veldmuise en paddas nou dikwels by huise voorkom om kos te soek, sal slange moontlik in en om jou huis gevind word. Dié diere is immers die slang se natuurlike prooi,” waarsku Mornay.
Wat gedoen as jy op ’n slang afkom?
Mornay sê dit is belangrik om kalm te bly. “Hoewel daar ’n aantal slangsoorte in die omgewing is wat skadeloos is vir mense, is dit beter om enige slang as potensieel giftig te beskou, veral indien jy nie seker is watter soort slang dit is nie.”
Net so belangrik, sê Mornay, is om nie te probeer om die slang dood te maak nie. “Die slang sal probeer om homself te verdedig as dit bedreig voel, en jou kans is dan groter om gepik te word. Kry jou kinders, familie en troeteldiere weg van die slang af, en behou ’n veilige afstand.”
Mornay sê dit is ook belangrik dat mens hierna die heeltyd ’n oog op die slang moet hou. “Hulle is geneig om vinnig te verdwyn omdat hulle heel waarskynlik weens enige beweging bedreig sal voel, en na die naaste en veiligste donker plek toe sal gaan. Dit maak dit uiters moeilik of selfs onmoontlik om hulle dan te vind.”
Hy stel voor dat jy onmiddellik die brandweer skakel om ’n slangvanger in die hande te kry.
Indien die slang jou pik, is dit belangrik om onmiddellik mediese hulp te soek.
“Probeer ’n foto neem as jy ’n selfoon naby het sodat die slang geïdentifiseer kan word; beweeg so min as moontlik en bly kalm. Moenie die wond sny of suig nie, en moet ook nie ys opsit of elektriese skok toepas nie. As ’n Kaapse kobra jou byvoorbeeld byt, kan sy gif baie vinnig versprei en tot asemhalingsprobleme lei.”
• Vir hulp met slange, skakel 044 203 7800.
(Deur Stefan Skapie Goosen)