Blydskap oor transportaktes

VIR Martha Frans en Katriena Wil­lemse, twee pensioentrekkers van Calitzdorp, was daar twee weke gelede ’n dag van groot blydskap vir hulle. Dié buurvroue van Paulsenstraat, Berg­sig is al meer as vier dekades bure.

Willemse wat na aan trane van blydskap was, vertel: “Die munisipaliteit was dié dag baie behulpsaam toe hulle ons kaart-en-transport tussen ’n klomp ander dokumente vir ons uitgehaal het. Ek wag al van toentertyd af vir hierdie belangrike dokument. Nou voel ek ook soos ’n regte huiseienaar en hoef my kinders nie na my dood te sukkel nie.”

Frans sê sy was ewe in die wolke: “Ons het deur die jare nooit ophou vra vir hierdie dokument nie. Mense moet aangemoedig word om hulle transportakte te gaan haal. Eers dan voel dit die huis waarn jy woon, is jou huis en kan jy beplan wat na jou dood met jou huis moet gebeur.” (Deur Deon Meyer)