FACEBOOK het verlede week gesorg dat ’n verlore trouring wat byna 50 jaar oud is, sommer gou aan ’n vrou van Oudtshoorn terugbesorg is.
Pierre Jordaan, stigter van die Facebook-groep Oudtshoorniete staan saam is verlede Donderdag (22 Oktober) deur ’n man van George gekontak nadat hy ’n ring buite ’n dokterspreekkamer in St Johnstraat opgetel het. Dié barmhartige Samaritaan wil anoniem bly.
Later die dag en min wetend dat die ring reeds opgetel is, het die eienaar van die ring, Carine Botha, se dogter Carin ’n versoek op dieselfde blad geplaas en gevra of iemand dalk die ring opgetel het. Die kosbare 48 jaar-oue ring kon so terugbesorg word aan sy eienaar.
“Kyk, dit was maar ’n storie toe ek agterkom ek het die ring verloor, maar ek is baie bly en dankbaar dat ek dit teruggekry het. Dis wonderlik,” het Carine aan Die Hoorn vertel. (Deur Stefan Skapie Goosen)