Besware oor die herbegrawe van beendere
Ek wil hiermee as stamhoof van die Attakwa Huis, my ernstige beswaar opper teen die werkswyse van die museum en ander rolspelers ten opsigte van die herbegrawe van beendere.
Ek baseer my beswaar op grond van die volgende:
Daar is eenparig besluit dat die beendere begrawe moet word op die plek waar dit uitgehaal is – op die perseel van die Hoërskool Oudtshoorn.
Ek moes tewens op 22 Oktober in Die Hoorn die berig lees dat daar “besluit” is dat die beendere op 29 Oktober 2020 begrawe gaan word.
Dit is heel teenstrydig met die gees van die besluit.
Dit stuit my teen die bors dat besluite sonder die medewete van die Attakwa Huis se insette en bydrae geneem is. Daar was immers onderhandelinge met rolspelers. Ek moet u daarop wys dat die Attakwa Huis deur nasionale regeringsdepartement statutêr erken word. Ek verwys na die Departement van Kuns en Kultuur en asook die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta).
Die besluit is na verneem word geneem op grond van die inspraak van mnr Manie Baadjies. Ek moet dit duidelik en onomwonde stel dat hy nié aan die statutêr erkende huis in die Attakwa-stamgebied behoort nie. Ek vind dit dus vreemd dat die museumbestuur buite die vasgestelde regeringstrukture werk.
Die Attakwa Huis is lid van die KCHDC-SA en NKC (National Khoisan Council) en Natural Justice. Ek wil dit weer eens beklemtoon dat mnr Baadjies ’n splintergroep verteenwoordig wat van die Attakwa Huis weggebreek het. Hy het geen bevoegdheid om namens die Attakwa Huis enige insette te maak of besluite te neem nie.
Die besluit is eensydig en hoogs verdag. Die feit dat die beendere by die Raubenheimerdam begrawe word, dui daarop dat die Oudtshoorn
Munisipaliteit deel aan die besluit het.
Daarom versoek ek u om onverwyld die herbegrawe van die beendere te staak.
Verdere kommer is:
• Waarom moet die beendere “weg uit die oog” begrawe word?
• Waarom is die museum so haastig om van die beendere “ontslae” te raak?
• Is dit weer soos die “ou Suid-Afrika” waar besluite op ’n paterna-listiese wyse oor en namens ons geneem word?
Ek wil u dringend en met erns versoek: Staak asb dié eensydigewerks-wyse.
Ons leef in ’n demokratiese bestel waar almal ’n reg het. Die Attakwa Huis wil onomwonde verklaar dat die reg en stem van die Eerste Nasie weer eens geminag word. Dit skrei ten hemele.
’n Afskrif van dié skrywe word aan die Departement van Kuns en Kultuur en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake gerig.
– Poem Mooney, Stamhoof van Attakwa Huis, Oudtshoorn
Aifa-sluiting
Wat ’n skok en ’n terugslag vir ons dorp! Dankie vir die jare se onder- steuning in ons dorp. Ons gaan julle mis.
For all those people who moaned and groaned about the noise of the little airplanes that affected their afternoon naps: Ons dorp se ekonomie is so stil.
Nou sal dit nog baie stiller wees.
– Bernard Herman, Oudtshoorn
Waarom dié 40%-verhoging?
Die gebruik van die term “-loosheid” deur ’n ou vriend is vir my so toepaslik, veral as dit gaan oor die wyse waaop die land op alle vlakke bestuur word.
Wat my veral grief, is die roekeloosheid van buitensporige elektrisiteitsverhogings wat op verbruikers afgedwing word sonder inagneming van enige omstandighede hoegenaamd.
Oudtshoorn Munisipaliteit is dit aan inwoners verskuldig om te verduidelik watter regverdiging daar is om koopkrag onder die kode 100000086009 addisioneel met 40% te verhoog.
Is dit nie genoeg dat Covid-19 verwoesting saai en ons lewens swaar beproef nie? Hoe lank moet burgers van die land nog gebuk gaan onder die vele “-looshede” en onsensitiewe optrede wat algemene gebruik geword het?
– MCI Santi, Oudtshoorn
(Die brief is Maandag aan die Oudts-hoorn Munisipaliteit gestuur vir reaksie. Hul terugvoer sal geplaas word sodra dit ontvang word. – Redakteur)