• Mandela, Langenhoven en Verwoerd dalk op een hoek?

Voortrekkerweg by die ingang vanaf Calitzdorp. Dit gons behoorlik op Oudtshoorn oor die moontlike verandering van Voortrekkerweg se naam. Foto: Liesel le Roux

Gister was Voortrekkerweg soos dikwels ’n miernes van bedrywighede met ou Fords wat die dorp besoek en die SA Padfietskampioenskap wat daar plaasvind. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
BAIE inwoners van Oudtshoorn was die afgelope week klaarblyklik ontstoke oor die munisipaliteit se voorgestelde naamverandering van Voortrekkerweg na Nelson Mandela Boulevard. Dit het inderdaad op sosiale media en om die vleisbraaivure gegons oor dié voorstel.
Die raad het verlede week tydens ’n raadsvergadering dié naamverandering goedgekeur, maar dit is nog nie ’n gegewe dat dit wel sal realiseer nie. Die raad het ook aangedui dat daar eers ’n openbare deelnameproses oor die naamsverandering sal plaasvind waartydens inwoners genooi sal word om hul insette te lewer.
Daar is egter tydens die raadsvergadering aangedui dat die raad graag al met die KKNK – wat einde Maart plaasvind – die nuwe straatnaam ter ere van die 100ste verjaardag van Mandela sal wil bekend stel.
Een van die grootste teenargumente van inwoners die afgelope week was die beweerde koste van so ’n naamsverandering. Veral op sosiale media was baie se mening dat die herstel van paaie en skoonmaak van die dorp ’n baie groter prioriteit is as die verandering van ’n straatnaam.
Die debat oor Voortrekkerweg het ook die aandag gevestig op die dele van die straat wat aandag nodig het. Hieronder tel die onversorgde voorkoms van die middelman met sy bossies wat geruime tyd ’n groot verleentheid vir inwoners was met die talle toeriste wat die dorp besoek en ook tans met die SA Padfietskampioenskap wat in die dorp plaasvind. Teen gister en eergister is daar egter fluks gewerk om die bossies te verwyder.
Die Hoorn het verskeie navrae oor die naamsverandering en die onderhoud van die straat aan die munisipaliteit gestuur, maar ongelukkig nie betyds vir vandeesweek se uitgawe reaksie ontvang nie. Die munisipaliteit het gister aangedui dat ons vrae die komende week beantwoord sal word.
Onder ons vrae is:
• ’n Navraag oor die beraamde koste van die naamsverandering vir die munisipaliteit (byvoorbeeld die vervanging van straatnaamborde en van die openbare deelnameproses) en vir inwoners en besighede langs Voortrekkerweg (byvoorbeeld titelaktes, dranklisensies, adresveranderings).
• ’n Navraag wat talle lesers aan ons gerig het, naamlik waarom ’n DA-beheerde raad Voortrekkerweg wil vernoem na ’n ikoniese ANC-leier.
• ’n Navraag – weliswaar effens tong in die kies – oor die naam van die oop ruimte op die hoek van Voortrekkerweg en Langenhovenweg wat volgens ons inligting steeds amptelik bekend staan as Verwoerdplein. Gaan ons dalk ’n straathoek in Suid-Afrika kry waar Mandela, Verwoerd en Langenhoven saam vernoem word?